Slegs 3 uit 21 vullisterreine in Noordwes voldoen aan vereistes – AfriForum
Slegs 3 van die 21 vullisterreine in Noordwes wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit geoudit is, voldoen aan die mees basiese vereistes van vullisterreinbestuur. Die Brits-Hartbeesfontein-terrein in die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit, die Mooinooi-terrein wat privaat bedryf word deur Interwaste en die Waterval-terrein in die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit is die enigste terreine in dié provinsie wat die oudit met ’n nakomingspunt van 80% of meer kon slaag. Die provinsie het boonop, naas die Noord-Kaap en die Vrystaat wat ’n gemiddelde nakomingspunt van onderskeidelik 13% en 18% behaal het, die swakste gevaar met ’n gemiddelde nakomingspunt van 36%. Die oudit se resultate toon ernstige sistemiese verval ten opsigte van vullisterreine in die provinsie, waarsku die burgerregteorganisasie.
AfriForum het vanjaar 169 van die land se 544 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van die land se terreine, geoudit. Uit die 169 terreine kon slegs een uit elke vyf terreine die oudit slaag.
“Met slegs een uit elke vyf vullisterreine wat voldoende basiese maatreëls het om die gemeenskap en die omgewing teen besoedeling te beskerm, bevestig die uitslae van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit weereens dat die meerderheid munisipaliteite landwyd nie in staat óf bereid is om basiese funksies van dienslewering te verrig nie,” verduidelik Marais de Vaal, samesteller van die vullisterreinouditverslag en raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.
Noordwes – waar slegs 14% van terreine wat vanjaar geoudit is, aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het – het voortgebou op verlede jaar se powere prestasie toe slegs 17% van terreine in dié provinsie die oudit geslaag het. Hoewel die gemiddelde nakomingspunt in die provinsie ’n geringe verbetering van 30% tot 36% getoon het, bevestig die oudit weer eens dat vullisterreine in dié provinsie ernstige risiko’s inhou en waarskynlik skuldig is aan lug-, water- en grondbesoedeling.
Uit die 21 vullisterreine wat in Noordwes geoudit is, het die volgende ses terreine het die swakste gevaar en kon nie eens ’n nakomingspunt van 10% behaal nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Bloemhof, Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Swartruggens, Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Ventersdorp, JB Marks Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Schweizer-Reneke, Mamusa Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Koster, Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Lichtenburg, Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit (0)
Volgens Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico-streek, toon vanjaar se resultate dat dienslewering in Noordwes nie oral op dieselfde standaard is nie en dat sekere dorpe – soos Rustenburg en Brits – uitskieters in ’n see van onbekwaamheid is. “In sekere munisipaliteite is daar as’t ware net ‘stortingsterreine’ en nie volwaardige, funksionerende vullisterreine nie. Munisipaliteite wat swak gevaar het in hierdie oudit sal die oprigting en korrekte instandhouding en bestuur van vullisterreine moet prioritiseer. Hoewel daar in talle munisipaliteite genoegsame geld geallokeer word vir vullisterreine word dit steeds nie reg bestuur nie. Wanbestuur moet ook hier uitgeroei word,” verduidelik hy.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, benadruk dat die verval in die provinsie – ook ten opsigte van vullisterreine – ernstige afmetings aanneem. “In plekke soos Klerksdorp het informele herwinnaars, wat tog ’n belangrike werk verrig, al ’n hele informele nedersetting tot stand gebring op die vullisterrein. Aspekte soos dié maak vullisterreine gevaarlik vir die publiek en inwoners in die omgewing van die terreine. Dit is duidelik dat munisipaliteite nie die wil of vermoë het om vullisterreine in Noordwes reg te bestuur nie,” meen sy.
AfriForum sal nou die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landswye herwinningsprojekte. “Dit is slegs deur hierdie pogings wat gemeenskappe voorspoedig sal wees ongeag die toestande waarin munisipaliteite hulself bevind,” sluit De Vaal af.