Semi-Soet – die musiekblyspel nou selfs soeter met Bobby van Jaarsveld

Die Adonis van Afrikaanse musiek en sanger van treffers soos “My alles” en “’n Vrou wil dit hoor”, Bobby van Jaarsveld, het pas aangekondig dat hy later vanjaar as die manlike hoofrol die verhoog sal deel met die geliefde Anel Alexander in die splinternuwe musiekblyspel Semi-Soet – die musiekblyspel. Dié verwerking van die lokettreffer Semi-Soet kom in Mei op die planke by die AfriForum Teater in Pretoria. 

Van Jaarsveld het vanoggend sy betrokkenheid by dié musiekblyspel in ’n onderhoud met Jacaranda FM verklap. “Ek sien baie uit daarna op weer, ná soveel jare, in die teater te wees. Semi-Soet was so ’n gewilde fliek en verseker een van my gunstelinge. Om dit nog boonop in die teater teenoor Anel Alexander te kan speel is ’n reusevoorreg en die grootste kersie op die koek. Lank lewe teater!” verduidelik Van Jaarsveld.

’n Ewe opgewonde Alexander verklaar: “Daar is darem net één man in die land wat die skoene – of sal ons sê Speedo – van Nico Panagio kan volstaan op die verhoog, en dit is Bobby. Ons was buite onsself van opgewondenheid toe hy ingestem het om saam te sing en speel in Semi-Soet – die musiekblyspel.”

Dié storie oor ’n selferkende werksverslaafde wat die advertensiemaatskappy waarvoor sy werk van ondergang wil red met ’n wilde, halsoorkop plan, trek vir die teaterproduksie ’n nuwe én musikale baadjie aan. Alexander vertolk, soos in die gelyknamige lokettreffer, weer die vroulike hoofrol en sal hierdie keer die Vryersvoetpad, te midde van skreeusnaakse oomblikke, saam met Van Jaarsveld aandurf.

Dit is die eerste keer wat dié twee talentvolle kunstenaars saam ’n projek aanpak. Tog het Van Jaarsveld skynbaar reeds beloof dat hy hard oefen om “swaar meisies te abba en van varke af weg te hardloop”.

Semi-Soet – die musiekblyspel is ’n AfriForum-produksie en word in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied. Die draaiboek is gebaseer op die oorspronklike rolprent geskryf deur Sandra Vaughn en Anel en James Alexander, met splinternuwe musiek uit die pen van Johan Vorster en Jacomien de Wet. Jannes Erasmus gaan weer in die regisseurstoel sit. Dié gesoute driemanskap het al verskeie treffermusiekteaterproduksies, insluitende Die Gelofte en Die Kaplyn, die lig laat sien.

Kaartjieverkope open binnekort. Hou www.SemiSoetMusiekblyspel.co.za dop vir meer inligting.

Soortgelyke plasings