Semi-Soet – die musiekblyspel maak geskiedenis by AfriForum Teater

Met die speelvak van Semi-Soet – die musiekblyspel wat amptelik ten einde gekom het, het dié produksie geskiedenis gemaak as die eerste vertoning wat ooit ’n volledig uitverkoopte speelvak van 48 vertonings by AfriForum Teater gehad het.

In die afgelope twee maande het byna 20 000 mense die teater besoek om die produksie te sien. Wat besonders is, is dat sowat 400 mense dit só geniet het dat hulle teruggekom het om dit ’n tweede keer te kyk.

Gebaseer op die geliefde Afrikaanse rolprent, het Semi-Soet – die musiekblyspel gehore bekoor met sy sterk musiek, prettige tonele en die romantiese storie van Jaci en JP. Die produksie het iets nuuts gebring na Afrikaanse teater, terwyl dit steeds die nostalgie en warmte van die oorspronklike film behou het.

“Ons is oorweldig deur die ondersteuning wat ons ontvang het,” sê Jacomien de Wet, wat saam met Johan Vorster aan die musikale leiding van die produksie gestaan het. “Ons het van die begin af geweet dit gaan iets besonders wees, maar die gehoor se reaksie het selfs ons verwagtinge oortref.”

AfriForum Teater is trots daarop om ’n platform te bied vir Afrikaanse stories en talent. Hierdie suksesvolle speelvak wys watter impak oorspronklike Afrikaanse produksies op gehore kan hê.

Soortgelyke plasings