|

Sasolburg-GOP: Gemeenskaplike betrokkenheid noodsaaklik vir herstel van dienslewering, sê AfriForum

AfriForum se Sasolburg-tak het ’n omvattende skrywe aan die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit gerig met belangrike voorstelle vir insluiting in die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir 2025/2026. Die skrywe het ten doel om gemeenskapsprioriteite te beklemtoon en volhoubare oplossings vir die kritieke krisis rakende dienslewering in die gebied aan te dring.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die GOP die kern van plaaslike ontwikkeling en dus moet dit die werklike behoeftes van inwoners weerspieël. “Ons het hierdie kommentaar as verantwoordelike gemeenskapsorganisasie ingedien sodat Sasolburg se inwoners se stemme gehoor kan word,” sê Pretorius.

AfriForum se kommentaar belig agt belangrike probleemareas wat dringend by die begroting ingewerk moet word:

  1. Inkomste- en begrotingsprioriteite: AfriForum versoek dat die munisipaliteit fokus op doeltreffende inkomste-invordering en die uitskakeling van vermorsing, veral binne die raamwerk van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur  en Plaaslike Regering: Wet op Munisipale Eiendomsbelasting.
  2. Padonderhoud en slaggate: Sasolburg en Vaalpark se paaie is in ’n haglike toestand weens dekades van verwaarlosing. Die gebrek aan beplanning vir periodieke instandhouding veroorsaak honderde slaggate nadat dit gereën het. In sommige gebiede, soos die Naledi-industriële sone, is die paaie onbegaanbaar, wat besigheidsaktiwiteite kniehalter.
  3. Straatligte: Minder as 10% van die straatligte werk. Die oorsaak is kabeldiefstal en ’n gebrek aan herstelwerk. Dit raak inwoners se veiligheid.
  4. Elektriese infrastruktuur: Verskeie elektreise verspreidingsbokse is oop, verroes of sonder enige toesluitmeganisme – met lewendige drade wat blootgestel is. Diefstal en sabotasie is aan die orde van die dag, wat nie net gevaarlik is nie maar ook ondernemings kwesbaar laat vir misdaad.
  5. Waterlekkasies: Verouderde pyplyne bars gereeld, wat lei tot watervermorsing en verhoogde druk op die begroting. Langtermynbeplanning vir die vervanging van infrastruktuur is noodsaaklik.
  6. Oorlading van rioolnetwerk: Die huidige rioolnetwerk kan nie die vloei hanteer nie en veroorsaak oorstromings van rou riool wat uiteindelik in die Vaalrivier, wat drinkwaterbronne besoedel, beland. ’n Uitbreidingsplan, met gepaardgaande omgewingsimpakstudie, word versoek.
  7. Verwaarloosde openbare ruimtes: Daar moet dringend begroot en aandag gegee word aan plekke soos die begraafplaas, die hospitaal perseel en ander ruimtes wat baie verwaarloos is.
  8. Onaanvaarbare toestand van vullisterrein: Die Sasolburg-vullisterrein is in ’n toestand van verval, met brandgevare, onwettige rommelversamelaars en besoedelingsrisiko’s wat die gemeenskap en omgewing bedreig. Boonop is die terrein vol en moet daar begroot word vir ’n nuwe terrein.

AfriForum roep die munisipaliteit op tot daadwerklike optrede en inklusiewe beplanning. “Ons versoek dat die munisipaliteit nie bloot aan wetlike vereistes voldoen nie, maar daadwerklik die gemeenskap insluit en betrek in die beplanning en uitvoering van hierdie GOP. Grondwetlike bepalings vereis dit, maar dit is ook ’n morele plig teenoor inwoners,” sê Pretorius.

AfriForum sal die situasie fyn dophou en opvolg met verdere betrokkenheid waar nodig.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak Kontak Johan Hayward by 073 885 1365 of Braam Muller by 076 125 7773 om by projekte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings