Money geld

SA kan nie nóg ’n ANC-begroting bekostig nie, maan AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om nie na die ANC se pype te dans in die lewering van die 2025 begrotingsrede nie. Met net een dag oor voor die uitgestelde begrotingsrede gelewer moet word, is dit duidelik dat slegs die ANC ten gunste van belastingverhogings is, aangesien geen konsensus oor die begroting nog openbaar gemaak is nie.

AfriForum, sowel as verskeie ekonome, sakeleiers en ander burgerregtegroepe het reeds aangedring dat staatsbesteding en -vermorsing besnoei moet word, eerder as om belastinginkomste te probeer verhoog. Die organisasie het ook reeds sy teenkanting teen die voorgestelde BTW-verhoging bekendgemaak, maar benadruk dat dit nie gaan oor die spesifieke vorm van belastingverhoging nie, maar eerder óf daar belastingverhogings sal wees of nie.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, het Suid-Afrika die punt bereik waar die ANC, en ANC-ministers, sal moet besef dat hulle nie die land se ekonomiese lot kan bepaal nie. “Die regering behoort eintlik belastingbetalers met die grootste respek en dankbaarheid te hanteer vir die geweldige las wat ons reeds dra,” sê Boshoff. “Die minister moet besef dis nie sý geld waarmee hy werk nie, dis die swaarverdiende sente wat huisgesinne se lot bepaal.”

Sommige maniere waarop uitgawes besnoei kan word sluit in die verkleining van die kabinet en staatsdepartemente, die vermindering van salarisse en ander voordele aan hooggeplaaste staatsamptenare, die skrapping van talle advertensieveldtogte, die besnoeiing van luukshede wat reis en spyseniering betref en die privatisering van staatsinstellings. Terwyl die staatskas leegloop doen AfriForum ook ’n beroep op individue en gemeenskappe om aan te sluit by die organisasie en te help bou aan staatsbestande oplossings vir dienslewering, veiligheid en openbare infrastruktuur.

Soortgelyke plasings