Rondskuif van Afrikaanse SAUK TV-nuus lyk desperaat, maar ondeurdag – AfriForum
Die nuutste verskuiwing van Afrikaanse TV-nuus lyk na ondeurdagte en benoude spronge, beklemtoon AfriForum in reaksie op ’n radio-onderhoud met die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se Afrikaanse TV-nuusbulletinredakteur, Daniëlle Wass, wat vanoggend (9 Junie) op RSG uitgesaai is.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het Wass genoem dat die nuwe tydsgleuf op weeksaande van 17:30 tot 18:00 op S3 (voorheen SABC3) sal wees, en oor naweke van 19:30 tot 20:00.
AfriForum het van meet af aan teen die verskuiwing van die uitsaaitye en -kanale beswaar gemaak en gewys op die verlies aan kykers en advertensie-inkomste wat dit mag inhou. Sedertdien het nóg skuiwe gevolg en het die kykerspubliek se reaksie bevestig dat die kommer geregverdig was.
“Volgens Wass is die skuiwe van die afgelope jare nie deur deeglike marknavorsing voorafgegaan nie. Dit is ondenkbaar dat wanneer ’n instelling só afhanklik van inkomste is soos wat die SAUK is, drastiese skuiwe geneem word sonder begronde motivering.”
“S3 word bemark as ’n kanaal vir mense van 25 tot 49 wat metropolitaans is en ’n globale lewensuitkyk het. Die probleem hiermee is dat ’n groot gedeelte van die Afrikaanssprekende publiek in landelike gebiede woon, asook dat werkende mense oor die algemeen om 17:30 saans nog nie rustig voor die televisie sit nie. Wass noem dat die bulletins ook op YouTube beskikbaar is, maar vir iemand wat swak of geen konneksie het, of nie data kan bekostig nie, is dit ook geen opsie nie,” verduidelik Bailey.
AfriForum het reeds op 9 April ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die SAUK gerig om antwoorde oor die toekoms van Afrikaanse TV-nuusuitsendings te eis. Geen reaksie is nog hierop of op ’n appèl ontvang nie, en dus het die organisasie nou die Inligtingsreguleerder gekontak om reaksie te probeer kry. Op grond hiervan sal verdere pogings aangewend kan word om oplossings vir Afrikaanse kykers se behoeftes te vind.
Die openbare uitsaaier se aanbod is steeds vir baie mense die enigste TV-nuusdiens waartoe hulle toegang het en dit is daarom belangrik om te verseker dat die diens voortgesit en volhoubaar bestuur word.