Regering het algehele koersverandering nodig, sê AfriForum in aanloop tot staatsrede

Die Suid-Afrikaanse regering het in die afgelope jaar ’n vernietigende trajek gehandhaaf wat beleid en praktyk betref en benodig nou ’n algehele koersverandering. Die drie mees omstrede en destruktiewe wette van die ganse bedeling is almal in die afgelope jaar bekragtig en kan Suid-Afrika op ’n weg van algehele verval laat afstuur. Die verantwoordelikheid rus nou op president Cyril Ramaphosa om in sy staatsrede te erken dat huidige ANC-beleid besig is om te misluk en dat alternatiewe weë ingeslaan moet word.

Die burgerregteorganisasie verwys hiermee spesifiek na die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (BELA) en die Wet op Onteiening. Al drie hierdie stukke wetgewing sentraliseer mag in die hande van ’n korrupte regering, misken die grondwetlike regte van burgers en het die potensiaal om die ekonomie skade te berokken. Ramaphosa behoort in sy staatsrede as ’n absolute minimum vereiste die wyse te skets hoe die destruktiewe elemente van hierdie wetgewing ongedaan gemaak kan word.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, verwag die organisasie egter eerder nog ’n werklikheidsvervreemde en selfverheffende toespraak van Ramaphosa. “Ons sal glad nie verbaas wees as Ramaphosa sy swakste skuiwe nou as suksesse wil vier nie. Daar gaan waarskynlik groot ophef gemaak word van die betreklike skaarste van beurtkrag die afgelope jaar sonder dat huishoudings wat self krag opwek bedank sal word. Dit is ook onwaarskynlik dat Ramaphosa die volle omvang van die waterkrisis sal erken. Ramaphosa was in die verlede goed daarmee om enkele positiewe aanduiders uit die hoed te trek en dit dan buite konteks as oorwinnings te vier.”

Nes die belofte van slimstede en sneltreine in vorige staatsredes, verwag AfriForum ook ’n paar verregaande beloftes en ander lugkastele van Ramaphosa. Die onmin tussen die partye in die regering van nasionale eenheid gaan waarskynlik verswyg word. Laastens voorspel die organisasie ook dat Ramaphosa die skadelike gevolge van swak ANC-beleid as “uitdagings” of “nagevolge van apartheid” sal beskryf en dan uitgebreide staatsmag as oplossing sal voorstel.

“Daar is nog kans vir Ramaphosa om tot sy sinne te kom en burgerlike vryhede voorop te stel. Vandag se staatsrede is dalk ’n goeie geleentheid hiervoor,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings