|

Publiek moet verlengde kommentaartyd op “Bela-regulasies” aangryp – AfriForum

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)

AfriForum verwelkom die aankondiging in die Staatskoerant dat die tydperk vir openbare kommentaar op die sogenaamde Bela-regulasies, verleng is. In Augustus vanjaar is hierdie konsepregulasies vir die toepassing van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela), wat op 24 Desember 2024 in werking getree het, met betrekking tot toelating tot en kapasiteit van skole vir openbare kommentaar gepubliseer. Aanvanklik sou die sluitingsdatum 5 September wees, maar dit is nou met ’n maand tot 5 Oktober verleng.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit positief dat die publiek nou meer tyd het om weldeurdagte insette oor die regulasies te lewer. “Beide stelle regulasies sal ’n betekenisvolle invloed op die aard van openbare skole en die beskikbaarstelling van hoë gehalte onderrig hê, daarom is dit nodig dat soveel instellings, organisasies en individue as moontlik kommentaar daarop indien.”

Bailey beklemtoon dat wetgewing oor die algemeen vaag is en regulasies dan ten doel het om meer helderheid oor die toepassing daarvan te skep. “Waar enigeen dus voel dat die regulasies steeds nie duidelik genoeg is nie, mekaar weerspreek of nie in pas is met werklikhede binne openbare skole nie, is dit nodig dat hierdie kommer onder die aandag van die minister en departement van Basiese Onderwys gebring word. Onsekerheid oor die betekenis van regulasies en wetgewing kan tot duur regsaksies lei, wat eerder voorkom moet word. Dit geld ook vir enigiets wat mense voel teenstrydig met die regte van leerders en onderwysers, of die Grondwet oor die algemeen is,” voeg sy by.

AfriForum is besig om kommentaar in oorleg met regsadviseurs vir indiening te finaliseer.

Enigeen wat ook teen 5 Oktober insette wil lewer, kan die nodige inligting en adresse vir indiening in die Staatskoerant van 1 September (volume 723, nommer 53275) vind, of AfriForum vir meer inligting by onderwys@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners