|

Privatisering van skuldinvordering in munisipaliteite noodsaaklik, sê AfriForum ná bom oor onbeheerde skuld aan waterrade bars

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

Die privatisering van munisipale skuldinvordering is volgens AfriForum nou noodsaaklik én onafwendbaar vir watersekerheid en voortgesette munisipale dienslewering. Die burgerregteorganisasie se aandrang op privatisering volg in reaksie op die nuus oor munisipaliteite se onbeheerde skuld aan waterrade wat landwyd reeds altesaam meer as R25,1 miljard beloop en dat die omvang van munisipale skuld in die Vrystaat veral ernstige krisisafmetings aanneem. AfriForum waarsku dat ’n kultuur van wanbetaling sonder gevolge op munisipale vlak gevestig is, maar dat dit deur privaat inisiatiewe uitgeroei sal kan word.

Luidens die jongste finansiële state wat vandeesweek in die Vrystaatse provinsiale wetgewer ter tafel gelê is, beloop dié provinsie se munisipale skuld aan Eskom en waterrade nagenoeg R36,5 miljard, terwyl skuld van onder meer ondernemings en regeringsdepartemente aan munisipaliteite in die provinsie sowat R43,5 miljard beloop.

Skuldvlakke het boonop nou ’n kritieke keerpunt bereik, waarsku Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake. “Indien die swak finansiële bestuur in munisipaliteite voortgesit word en die swak skuldinvorderingskoers voortduur sal alle munisipale dienslewering benadeel word en wateronderbrekings oor so min as drie maande landwyd kan voorkom,” waarsku hy.

“Die jongste verslae rakende veral munisipaliteite se skuldvlakke bewys onteenseglik dat munisipaliteite nie meer die vermoë het skuld te verhaal nie. Noodsaaklike infrastruktuurprojekte word reeds as gevolg van ernstige skuldvlakke gestaak, wat uiteindelik onder meer watersekerheid en die lewering van veilige drinkwater in gedrang bring. ’n Kritieke beginpunt in die ommekeer van dié krisis lê by die privatisering van munisipale skuldinvordering,” verduidelik De Klerk.

De Klerk maan intussen waterrade om ook op hul beurt verantwoordelike finansiële bestuur toe te pas. AfriForum het vroeër vandeesweek onthul dat buitensporige salarisse aan topraadslede by waterrade betaal word, terwyl luukse reise, peperduur verblyf en ander onnodige uitgawes die reeds sukkelende rade verder kniehalter.

“Die wanprioritisering van besteding by waterrade plaas gemeenskappe in ’n dubbele wurggreep – hulle ly onder munisipaliteite wat nie hul skuld aan waterrade betaal of kan betaal nie, én hulle ly onder telkens korrupte waterrade waar finansieel verkwistende praktyke aan die orde van die dag is.”

“Water is ’n grondwetlike reg en die regering kan nie langer toelaat dat munisipaliteite se wanbestuur die land se watersekerheid kelder nie. AfriForum sal voortgaan om druk op al drie regeringsfere te plaas om gemeenskappe se reg tot voldoende en veilige water te beskerm,” sluit de Klerk af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik