Prioritiseer gemeenskapsveiligheid, sê AfriForum vir Johannesburg-metro
AfriForum se Roodepoort- en Johannesburg-Noord-takke het formele voorstelle ingedien op die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) om gemeenskapsveiligheid, infrastruktuur en dienslewering in die Wes-Rand te verbeter.
Een van die voorstelle is die stigting van ’n satelliet-polisiestasie in Fleurhof, Roodepoort, om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se reaksietyd en teenwoordigheid in die gebied te versterk. AfriForum stel ook voor dat ’n toegewyde span in die Johannesburgse metropolisie aangestel word, wat toesien dat bywette nagekom word, veral met die fokus op misdaadvoorkoming en openbare orde.
“Ons doel is om ’n daadwerklike verskil te maak in die lewens van ons gemeenskappe deur konkrete voorstelle wat werk. Elke aanbeveling is gegrond op jarelange waarnemings, die gemeenskap se insette en volhoubare praktyke,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder aan die Wes-Rand.
Ander voorstelle sluit die volgende in:
- Die opgradering van die rioolnetwerk in wyk 70 in Roodepoort, wat reeds meer as tien jaar agter is en ontwikkeling kniehalter.
- Herstelwerk aan paaie, sypaadjies en die inlate van stormwaterdreine, asook programme vir gemeenskapsopleiding om slaggate en padmerke te takel.
- ’n Inisiatief teen onwettige vullisstorting, wat opleiding en indiensneming van vrywilligers insluit.
- Die reiniging en instandhouding van die Florida-meer se stormwaterstelsel, asook planne vir die opknapping van die vlooimark en die sentrale sakekern.
- Die heraktivering van die Cecil Payne-stadium vir jeugsport en gemeenskapsgeleenthede.
- Die implementering van ’n inisiatief waar die gemeenskap (ondernemings, individue, organisasies, ens.) treinstasies ‘aanneem’ en verantwoordelik is vir die instandhouding van daardie spesifieke stasie.
- Die opgradering van straatligte na LED-tegnologie.
AfriForum doen ’n beroep op die Johannesburg-metro om hierdie projekte te implementeer, met die oog op ’n veiliger, skoner en funksionele stedelike omgewing vir alle inwoners van Johannesburg.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.