|

Pretoria-substasies brand, terwyl Tshwane-metro AfriForum se veiligheidsplan dwarsboom

AfriForum het vandag, ná die ontploffing en daaropvolgende brand by die Zwartkop-substasie, die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit se dwarsboming van die implementering van die organisasie se plan vir die beveiliging van substasies in dié metro gekritiseer. AfriForum hou vol dat die metro deur middel van sy burokratiese rompslomp eerder toekyk hoe kritieke infrastruktuur in die metro vernietig en die stad in ’n grootskaalse kragkrisis gedompel word, as om doeltreffende gemeenskapsinisiatiewe ter beskerming van die metro se bates – en wat die metro boonop reeds goedgekeur het – te laat implementeer.

Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria-Suid, meen dat vanoggend se ontploffing sowel as die verwoestende brand wat op 24 April by die Waltloo-substasie gewoed het, verhoed kon geword het, maar dat die metro nie die politieke wil of kapasiteit het om die kragkrisis die stryd aan te sê nie. Hy benadruk dat verouderde infrastruktuur, swak bestuur, voortdurende kabeldiefstal en die sabotasie van infrastruktuur as redes vir die ontwrigtende brande en ontploffings by substasies voorgehou kan word en dat AfriForum, veral ten opsigte van die beveiliging van substasies, ’n belangrike rol het om te speel.

Die burgerregteorganisasie het onlangs ’n formele ooreenkoms met die metro gesluit waardeur toestemming vir die beveiliging van die Garsfontein-substasie toegestaan is. Die implementering van dié beveiligingsprojek sou reeds verlede week afgeskop het. Dit is daarop gemik om as bloudruk te dien vir die implementering van ’n stadswye substasiebeveiligingsplan. Ten spyte van ’n ooreenkoms wat aan AfriForum die mandaat gee om die beveiliging van die Garsfontein-substasie te doen, is die projek egter ter elfder ure deur amptenare van die metro gepootjie wat AfriForum toegang tot die terrein geweier het.

AfriForum se inisiatiewe vir die beveiliging van substasies word reeds met groot sukses in verskeie ander dorpe in die land toegepas.

Ingevolge die ooreenkoms met die Tshwane-metro sal die beveiliging van die Garsfontein-substasie onder meer die gebruik van gevorderde kamera-installasie en gewapende reaksie insluit. Daarbenewens word beoog om ook die hulp van moderne tegnologie (soos kunsmatige intelligensie) in te span in die stryd teen kabeldiefstal en sabotasie by substasies in en om Pretoria.

Kragtens artikel 152(1)(e) van die Grondwet is die Tshwane-metro as plaaslike regering verplig om die betrokkenheid van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies by plaaslike regeringsaangeleenthede aan te moedig. Hierin misluk die metro egter volgens Roodt nog klaaglik.

“Dit is onaanvaarbaar dat die tyd, geld en moeite wat AfriForum-lede in hul gemeenskap belê,  eenvoudig vertrap word deur burokrate wat eerder gemeenskapsinisiatiewe sal verhinder as om toe te laat dat dit tot voordeel van die inwoners ingestel word. Die metro staan nie net apaties in die krisis nie, hulle werk aktief om die oplossings wat die gemeenskap self uit nood wil implementeer, te kniehalter,” verduidelik Roodt. “Ons staan reg om die vure te help blus én te voorkom, maar die metro moet saamwerk – of uit ons pad uit kom. Rampe soos dié wat vanoggend in Zwartkop plaasgevind het en groot dele van Centurion en Pretoria-Oos in duisternis gedompel het, is voorkombaar, maar dit verg aksie. Dit is noodsaaklik vir die metro om ’n kultuur van samewerking te kweek en nie gemeenskapsinitiatiewe teen te werk nie.”

Die publiek word aangemoedig om betrokke te raak by AfriForum. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings