Postmasburg-vullisterrein kort ingryping, sê AfriForum in GOP-voorstelle
Die vullisterrein in Postmasburg, waarvan Beeshoek-inwoners ook gebruikmaak, is ’n ernstige bron van kommer omdat dit nie aan die basiese standaarde van ’n vullisterrein voldoen nie. Volgens AfriForum moet hierdie terrein in geheel opgegradeer word en op ’n gereelde basis in stand gehou word. Die organisasie sal ’n ouditverslag met aanbevelings aan die Tsantsabane Plaaslike Munisipaliteit, wat in beheer is van die Postmasburg-vullisterrein voorsien om hiermee te kan help.
Dit is een van die vele aanbevelings wat AfriForum se Postmasburg-tak, waaronder Beeshoek ook sorteer, op 26 Mei via skriftelike kommentaar by die Tsantsabane-munisipaliteit rakende die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) vir die 2025/2026 finansiële jaar ingedien het.
AfriForum se kommentaar sluit ook die volgende dringende kwessies in:
- Elektrisiteit: Die elektriese netwerk is in ’n haglike toestand. Gereelde onderbrekings, selfs tydens ligte weerstoestande, benadeel inwoners ernstig. Opgraderings en volhoubare instandhouding aan die netwerk is noodsaaklik.
- Munisipale beplanning: ’n Toename in informele strukture vereis dat ’n behoorlike ruimtelike ontwikkelingsraamwerk opgestel en geïmplementeer word, met begroting vir formele behuising en noodsaaklike dienste.
- Plaaslike begraafplase: Die begraafplase is in ’n toestand van verwaarlosing en het hul kapasiteit bereik. AfriForum doen ’n beroep op die munisipaliteit om onmiddellik op te tree om begraafplase te herstel en uit te brei.
- Straatligte: Sonkrag-aangedrewe straatligte moet prioriteit in die begroting geniet vir ’n veiliger, meer volhoubare dorpsomgewing.
- Parke: Reëls vir die gebruik van parke moet streng toegepas word om veiligheid en netheid te verseker.
- Padinfrastruktuur: Die toestand van paaie is onaanvaarbaar en hou ’n gevaar vir voertuie en voetgangers in. Padtekens en spoedhobbels is selfs in die dag moeilik sigbaar dus moet die munisipaliteit die sigbaarheid van die tekens verbeter.
- Netheid van die dorp: AfriForum versoek skoon openbare toilette en algemene higiëne-maatreëls, insluitend die weeklikse ontsmetting van sypaadjies.
Volgens AfriForum se skrywe is dit van kardinale belang dat die munisipaliteit sy grondwetlike pligte nakom, soos uiteengesit in artikel 152 van die Grondwet, naamlik om gemeenskapsdeelname in munisipale aangeleenthede aan te moedig. Die GOP-proses is een van die belangrikste maniere waardeur inwoners ’n werklike stem in hul dorp se ontwikkeling het.
Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, benadruk dat die organisasie se betrokkenheid nie net van kardinale belang is nie, maar deel is van ’n oplossingsgeoriënteerde benadering. “Ons glo vas daaraan om betrokke te wees en samewerking met die munisipaliteit te bevorder. Hierdie GOP-kommentaar weerspieël die werklike bekommernisse van inwoners en bied konkrete oplossings,” sê sy.