| | |

Port Elizabeth-buurtwagte help gestrande vrou én om kaping te voorkom tydens massapatrollie

AfriForum se buurtwagte in die Oos-Kaap het ’n suksesvolle massapatrollie agter die rug. Die nasionale patrollie het 11 April om 16:00 begin en is die volgende dag tot in die vroeë oggendure voortgesit. AfriForum-veiligheidstrukture in die Oos-Kaap wat aan die patrollie deelgeneem het, is die Winterberg-plaaswag en die Mosel-buurtwag in Kariega; en die  Walkerdrive-, Broadwood- en Colchester-buurtwagte in die omgewing van Gqeberha. Die patrollies is in samewerking met wetstoepassers, sekuriteitsmaatskappye en nooddienste uitgevoer, en was die eerste van drie nasionale patrollies wat vir vanjaar geskeduleer is.

Die organisasie se Broadwood-buurtwag het gehelp om ’n kaping te voorkom, terwyl die Walker Drive-buurtwag ’n vrou gehelp het wat gestrand was.

Verskeie ander voorvalle is ook tydens die operasie aangemeld en hanteer waaronder huisbraak, die besit van dwelms, aanranding, die besit van gesteelde goedere en die beskadiging van eiendom. Daar is ook hulp verleen by ongelukstonele. Voorts het buurtwaglede aan gesamentlike operasies van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) deelgeneem waartydens beslag gelê is op verskeie onwettige items en gevaarlike wapens.

Sommige AfriForum-strukture het ook die massapatrollie as ’n geleentheid gebruik om ander aksies te doen. So het die Colchester-buurtwag ’n skoonmaakprojek by die geskiedkundige  Mackaybrug, wat in 1895 gebou is, aangepak. Die Winterberg-plaaswag en Mosel-buurtwag het Saterdag om 16:00 ’n gesamentlike patrollie deur die dorp se strate gehou tot by die Corkwood Square-winkelsentrum waar hulle paaseiers aan die publiek uitgedeel het. AfriForum is ondersteun deur die SAPD, WOGA-sekuriteit, Atlas-sekuriteit, Crash Motors, Relay-nooddienste en Guardmed-ambulansdiens. Die doel van dié patrollie was om bewusmaking te skep van al die veiligheidsrolspelers in die omgewing.

“Ons gebruik die massapatrollie om hoë sigbaarheid te handhaaf om potensiële misdadigers af te skrik. Die patrollie gee ons buurt- en plaaswagte ook die geleentheid om gebeurlikheidsplanne in te oefen. AfriForum het ’n uitgebreide radionetwerk wat gedurende die patrollie ’n belangrike rol speel om oor die hele land kommunikasie moontlik te maak en op dieselfde tyd op die proef gestel kan word. Inoefening rat die organisasie se veiligheidstrukture dus op hierdie manier landwyd om, wanneer nodig, blitsig en doeltreffend te reageer in die belang van gemeenskappe se veiligheid,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos Kaap.

“Die aktiewe betrokkenheid van ons vrywilligers in hierdie massa-inisiatief wys weereens hoe noodsaaklik georganiseerde gemeenskapsveiligheid is in ’n land waar misdaad handuit ruk. AfriForum is trots op elke patrolleerder wat hul tyd en vaardighede opoffer om hul gemeenskap te help beveilig. Dít is waar ware veiligheid begin – by die gemeenskap sélf,” sluit Van der Vyver af.

AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings