Oudtshoorn-tak eis deursigtigheid oor aanstelling van munisipale bestuurder
Die AfriForum-tak in Oudtshoorn het vrae oor die aanstelling van Mkhululi Yekani as munisipale bestuurder by die Oudtshoorn Munisipaliteit. Die organisasie het ’n aansoek ingevolge die Wet op Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Oudtshoorn Munisipaliteit oorhandig, om deursigtigheid te eis oor dié aanstelling. Die tak soek onder meer inligting oor Yekani se kwalifikasies en die aanstellingsproses wat gevolg is.
Yekani het vir ses maande lank waargeneem as munisipale bestuurder en is van 1 April af permanent in dié posisie aangestel. Dít ondanks vrae rondom sy geskiktheid as munisipale bestuurder. AfriForum het kort ná die aankondiging reeds ’n brief aan die munisipaliteit gestuur om te vra oor Yekani se kwalifikasies, voldoening aan die wetlike vereistes van die pos, en die aanstellingsproses wat gevolg is. Die munisipaliteit, het egter geweier om reaksie te lewer en die organisasie na Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning verwys. Dít ondanks die Oudtshoorn Munisipaliteit se belofte dat hy daartoe verbind is om die aanstellingsproses so deursigtig as moontlik te hanteer.
AfriForum het reeds sedert September verlede jaar probeer om in gesprek te tree met Yekani om te bepaal hoe die tak beter samewerking met die munisipaliteit kan bewerkstellig, maar Yekani het alle versoeke vir vergaderings bloot geïgnoreer. Die tak het ook gepoog om met Yekani te skakel oor die organisasie se nasionale projekte soos die vullisterreinoudit en die blou-en-groendruppel-toetse, maar het geen terugvoer ontvang nie.
“Dit is van uiterste belang dat die munisipaliteit verseker dat geskikte kandidate aangestel word,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “AfriForum is ’n waghond vir inwoners se regte en streef daarna om te verseker dat inwoners op goeie bestuur en verantwoordbaarheid kan staat maak. Ons sal voortgaan om die belange van die Oudtshoorn-gemeenskap te beskerm.”
Sluit aan by die Oudtshoorn-tak, en raak deel van die oplossing. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za, of skakel vir Erasmus by 081 216 9602.