Opskud, skryf nóú in vir 2025 se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

Inskrywings vir AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is nou oop en in 2025 bou Sakenetwerk, in samewerking met sy vennote, voort op die verlede én sterker aan die toekoms van hierdie kompetisie. Vanjaar word die kompetisie selfs verder gevoer en sal as ’n TV-program op AfriForumTV uitgesaai word, waar entrepreneurs hul ondernemings op ’n nasionale platform kan vertoon.

Vir 2025 is daar slegs een kategorie: Entrepreneurs wat langer as 1 000 dae bestaan en reeds winsgewend is, maar met ’n maksimum van 10 jaar in bedryf. Entrepreneurs het tot en met 26 September om in te skryf.

Die publiek het die geleentheid om tussen 29 September en 12 Oktober vir hul gunsteling-entrepreneur te stem, waarna 10 semi-finaliste op 13 Oktober aangekondig sal word. Agt van die tien semi-finaliste word deur die publiek gekies, terwyl die beoordelaars op die ander twee semi-finaliste besluit. Die semi-finaliste moet ’n kort portefeulje saamstel wat deur beoordelaars gebruik word. Elke semi-finalis ontvang ’n mentor en een aanlyn-sessie om hul portefeulje te versterk. Die portefeulje bepaal wie deurdring na die finale ronde. Die finaliste word op 20 Oktober aangekondig met die finaal wat dan tussen 5 en 7 November in Pretoria sal plaasvind.

Die wenner ontvang R100 000, wat moontlik gemaak is deur Version 8 Media Group; mediablootstelling ter waarde van meer as R150 000 op Maroela Media; ’n vol portefeulje ter waarde van R150 000 van Steyn IP vir die beskerming van die wenner se handelsmerk (alle finaliste ontvang handelsmerkregistrasie ter waarde van R12 000 van Steyn IP); lewens- en besigheidsafrigting ter waarde van R12 500 van Lizette Volkwyn; en ’n eksklusiewe proe-ervaring deur Rocket Distillery.

Volgens Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is hierdie jaar ’n keerpunt vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. “Die kern van hierdie kompetisie was nog altyd om deelnemers en finaliste ’n groter platform te gee, daarom is ons opgewonde oor AfriForumTV wat dié kompetisie se finaal as ’n reeks gaan opneem. Ons gee deelnemers ’n nasionale verhoog wat hul ondernemings na volgende hoogtes kan neem. Boonop het die kontantprys vanjaar verdubbel, waaroor ons baie dankbaar is, want watter entrepreneur het nie ’n lekker kontant-inspuiting nodig nie,” sê Van der Walt.

Maak gereed om jou onderneming na die volgende vlak te neem. Skryf vandag in en word die gesig van Suid-Afrika se volgende groot entrepreneur-suksesverhaal.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners