| |

Oos-Randse takke ruim veld in Germiston op om grondgrype af te weer

AfriForum se strukture in Germiston, Edenvale, Alberton en Kempton Park het saam met die gemeenskap gewerk om inwoners van Klopperpark in Germiston teen onwettige grondgryping te beskerm. Die afgelope paar weke is daar pogings aangewend om onwettig grond te beset, wat ’n dringende reaksie van die gemeenskap en veiligheidsorganisasies genoodsaak het.

Die Ekurhuleni-metropolisiediens (EMPD), privaat sekuriteitsmaatskappye en AfriForum-buurtwagte was op die toneel om die situasie te moniteer en ondersteuning te bied. Die veld waar die pogings tot grondgrype plaasgevind het, was egter bebos met baie lang gras, wat die buurtwagte en die EMPD se werk bemoeilik het, veral saans wanneer sigbaarheid ’n kritieke faktor is.

Om hierdie uitdaging op te los, het AfriForum-takke en die gemeenskap op 22 Junie saamgekom om die veld skoon te maak en op te ruim. Gedurende die skoonmaakprojek is baie bome en bosse gesny, en meer as 30 sakke rommel is verwyder. Hierdie skoonmaakprojek het nie net die sigbaarheid in die veld verbeter nie, maar ook die veiligheid van die gebied opgeskerp, wat verseker dat geen onwettige grondgrypers die veld ongesiens kan betree nie.

“Die samewerking tussen die AfriForum-takke en die gemeenskap demonstreer die krag van kollektiewe aksie. Wanneer ons saamstaan, kan ons ons gemeenskappe beskerm en verbeter. Hierdie skoonmaakprojek is ’n bewys van ons toewyding om ’n veilige en stabiele omgewing te verseker,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder aan die Oos-Rand.

AfriForum bedank almal wat deelgeneem het aan die skoonmaakprojek en spreek hul waardering uit vir die gemeenskap se deurlopende ondersteuning. Samewerking en proaktiewe optrede soos hierdie is noodsaaklik om die uitdagings wat gemeenskappe in die gesig staar, suksesvol aan te pak.

AfriForum doen ’n beroep op alle gemeenskapslede om betrokke te raak en deel van die oplossing te wees. Sluit aan by AfriForum en maak ’n verskil in jou gemeenskap: Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings