Oorstromings in noordelike dele van die land geen verrassing vir AfriForum nie
AfriForum waarsku lankal teen die gebrekkige instandhouding van stormwaterdreineringstelsels in dorpe en omliggende gebiede, die belangrikheid van risikobepaling ter voorbereiding van vloede en munisipaliteite se nalatigheid om kwesbare gebiede betyds teen vloede en swaar reën te beveilig. Dit alles kom uiteindelik daarop neer om ’n doeltreffende rampbestuursplan te hê, benadruk AfriForum.
Die totale onvermoë van munisipaliteite om doeltreffend rampbestuur toe te pas, het weer sterk na vore gekom in die afgelope week se swaar reën in die noorde van die land waar talle paaie verspoel het en mense vasgekeer was of inderhaas gered moes word – alles terwyl plaaslike owerhede traag, ongeorganiseerd en dikwels heeltemal onaktief bly.
Dele van Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Vrystaat was vandeesweek onder water.
Die meeste munisipale rampbestuurskantore in die land is buite werking. Hulle het óf nie die hulpbronne om op die toneel te help nie óf hulle weet nie hóé om te help nie óf daar is nie ’n rampbestuursplan nie.
“’n Munisipaliteit sonder ’n rampbestuursplan is soos ’n skip sonder ’n roer – wanneer die storm kom, is chaos onafwendbaar. Munisipaliteite se onvermoë om rampe te versag en te bestuur, is nie net nalatigheid nie maar ’n direkte bedreiging vir gemeenskappe se veiligheid en voortbestaan. Dit is van kardinale belang dat gemeenskappe mekaar help en saamstaan in tye van nood eerder as om op ’n onsigbare en onbetroubare regering te wag,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum.
Die rampbestuurswetgewing maak voorsiening dat munisipaliteite se rampbestuurafdeling van vrywilligers gebruik maak om tydens rampe te help, maar die meeste munisipaliteite het geen vrywilligers in dié verband nie. Vrywilligers is gewoonlik inwoners van ’n dorp of stad wat opgelei is in verskillende velde waaronder noodhulp, brandweer en soek-en-redding. Hoe meer mense weet hoe om tydens ’n ramp te reageer, hoe makliker is dit vir ’n gemeenskap om weerbaar te wees.