Onwettige mynbouaktiwiteite naby suide van KNP moet nou stop – AfriForum
AfriForum versoek dat die mynbouaktiwiteite, wat sonder die nodige toestemming naby die suide van die Kruger Nasionale Park plaasvind, onmiddellik stop. Dit volg ná dit onder die organisasie se aandag gekom het dat daar reeds beweerde onwettige boor- en verkenningsaktiwiteite op verskeie Tenbosch-, Turfbelt- en Tecklenburg Ranch-gronde plaasvind. Die organisasie het sy regspan opdrag gegee om ’n skrywe aan Tenbosch Mining, Black Tip Drilling en Kimopax te rig om dié aktiwteitete staak.
Volgens AfriForum is daar tans geen goedgekeurde omgewingsimpakstudie (OIS) of omgewingsbestuursprogram (OBP) vir die betrokke mynreg-aansoek (MP30/5/1/2/2/10259 MR) nie, en geen toestemming is van die grondeienaars of huurders ontvang soos deur wetgewing vereis nie. Daar is ook geen bewys dat die gemeenskap ingestem het dat die bedrywighede mag plaasvind of dat hulle daarvan kennis dra nie.
AfriForum eis dat alle aktiwiteite teen 7 Oktober 2025 gestaak word en dat ’n skriftelike onderneming tot dié effek aan die organisasie voorsien word. Indien nie, sal AfriForum om ’n dringende interdik aansoek doen en strafkoste eis.
“Hierdie mynbedrywighede, indien dit inderdaad sonder die nodige toestemming en goedkeuring geskied, stel ’n ernstige skending van die gemeenskap se regte en omgewingsbestuur in die gebied voor. Ons sal nie toelaat dat die wet geïgnoreer word en dat gemeenskappe se stemme geminag word nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake.
AfriForum het ook die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMRE) in kennis gestel en formele optrede versoek om die wetlike posisie te bevestig en enige onwettige aktiwiteite te staak.