|

Onverantwoordelike gebruik van Bloemhofdam lei tot mensgemaakte krisis – AfriForum

Die voortdurende gebruik van die Bloemhofdam as ’n opgaar-, in plaas van ’n vloedbeheerdam, is volgens AfriForum onaanvaarbaar, aangesien gemeenskappe stroomaf opnuut skade gely het. Die departement van Water en Sanitasie (DWS) se versuim om toe te sien dat voldoende opgaardamme gebou word, het daartoe gelei dat die Bloemhofdam buite sy oorspronklike doel gebruik word – met rampspoedige gevolge.

“Wanneer die dam se kapasiteit kritieke vlakke bereik, word sluise noodgedwonge oopgemaak, wat lei tot sogenaamde mensgemaakte vloede. Hierdie vloede veroorsaak wydverspreide skade aan infrastruktuur en plaas gemeenskappe se lewens in gevaar. Dit is ’n direkte gevolg van swak beplanning en ’n gebrek aan proaktiewe bestuur. Die huidige praktyk is nie net onvolhoubaar nie, maar ook gevaarlik en onaanvaarbaar,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

Rampbestuur het oor die wêreld heen wegbeweeg van ’n reaktiewe na ’n proaktiewe benadering en ’n goeie voorbeeld hiervan is Orkaan Sandy in 2012 in New York, waar skade beperk, lewensverliese min en infrastruktuur vinnig herstel was. Hierdie filosofie moet egter deur alle regeringsdepartemente, insluitend die DWS, toegepas word om lewensverliese, asook finansiële- en infrastruktuurskade te beperk.

“Indien die Bloemhofdam doeltreffend as ’n vloedbeheerdam bestuur word, kan skade in die toekoms verhoed of aansienlik verminder word. Die dam is juis gebou om vloedwaters te beheer sodat die gemeenskappe wat stroomaf af bly nie skade ly wanneer die sluise van die Vaaldam oopgemaak word nie,” sê Cooks.

Die Noordwes se rampbestuursafdeling het ook nie voldoende fondse om die gemeenskappe wat deur die mensgemaakte vloed geraak word, te ondersteun nie. Daarom het AfriForum sy eie noodfonds op die been gebring om dié en ander gemeenskappe te help wanneer daar ’n ramp is.

Lede van die publiek kan enige tyd ’n bydra tot die noodfonds maak. Klik hier om nou ’n bydra te maak.

Soortgelyke plasings