Nuwe sandput vir Little Steps Kleuterskool danksy AfriForum Jeug se Knysna-tak
AfriForum Jeug se Knysna-tak het op 22 Maart ’n pragtige sandput vir die Little Steps Kleuterskool in Karatara gebou. Lede van die jeug-tak en vrywilligers uit die omgewing het saamgespan om ’n veilige en vreugdevolle speelruimte vir die kleuters te skep.
Die Helpende Hand Ons Winkel in Knysna en Sedgefield het ook speelgoed ingesamel waarmee die kleuters in hul nuwe sandput kan speel, dié speelgoed is die afgelope naweek in ’n speelgoedboks by die kleuterskool afgelewer.
“Ons glo dat elke kind ’n veilige en vreugdevolle ruimte verdien om te speel en ons is opgewonde om ’n positiewe bydrae tot die Little Steps Kleuterskool se omgewing te maak. Dit is klein aksies soos hierdie wat ’n groot impak op ons gemeenskappe kan hê,” sê Wikus van der Walt, AfriForum Jeug-beampte vir strukture.
Volgens Martinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap is die bou van hierdie sandput net een voorbeeld van hoe AfriForum Jeug in die Suid-Kaap betrokke raak om ’n verskil te maak. “Hierdie tipe inisiatiewe is die sleutel tot die bou van sterk gemeenskappe en ’n beter toekoms vir ons kinders.”
AfriForum Jeug is opgewonde oor die verskil wat gemaak is en bly gemotiveer om meer projekte van hierdie aard in die toekoms aan te pak. Die tak doen ’n beroep op die gemeenskap om by hul naaste tak aan te sluit en te help om ’n verskil te maak by www.wordlid.co.za.