|

Nuwe AfriForum-gemeenskapsveiligheidsentrum slaggereed om sentrale binneland te bedien

Met die amptelike opening van AfriForum se Gemeenskapsveiligheidstrum (GVS) in Bloemfontein het dié burgerregteorganisasie weer die voortou geneem met dié inisiatief wat daarop gemik is om gemeenskappe in veral Bloemfontein, maar ook in die res van die Vrystaat, Noordwes én KwaZulu-Natal ten opsigte van veiligheidsdienste te bedien. Die sentrum is gisteraand (3 April) in Langenhovenpark geopen. Die sentrum is die eerste van sy soort vir AfriForum en die oprigting van soortgelyke sentrums in ander hoofsentra van die land word nou oorweeg.

Volgens Raymond Hohls, bestuurder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, beskik hierdie GVS oor uiteenlopende fasiliteite wat eerstens kommunikasie tussen verskillende veiligheidsrolspelers op een plek byeenbring en verbeter. Die sentrum beskik voorts oor ’n toegewyde sentrum vir veiligheidsopleiding vir AfriForum se eie buurtwagte, ’n traumakamer wat oornagfasiliteite bied aan slagoffers van veral geweldsmisdaad, hommeltuigvermoë en ’n tegnologies gevorderde beheerkamer wat 24 uur per dag beman word. Die sentrum dien ook as die basis van AfriForum se Bloemfontein-kantoor, twee AfriForum-reaksievoertuie en die organisasie se privaatvullisverwyderingsdiens vir Bloemfontein.

“Ons is hier om die gemeenskap te bedien en kommunikasie tussen die verskillende rolspelers byeen te bring,” verduidelik Hohls. Die sentrum het sedert daar in Januarie vanjaar geleidelik met werksaamhede hier begin is tot einde Maart bystand verleen of reageer op 30 arrestasies, 49 ongelukke of noodsituasies waarvoor mediese bystand benodig was, nagenoeg 330 aktiverings van reaksievoertuie en 59 gevalle waarin verdagte voertuie of individue aangemeld is.     

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wat ook die openingsgeleentheid bygewoon het, bestempel die opening van dié GVS as ’n “reusestap vorentoe” om gemeenskappe te bemagtig om self verantwoordelikheid vir hul toekoms te neem. “Die Bloemfontein-omgewing beskik oor baie sterk AfriForum-buurtwagte. Die plaaslike polisie speel hier ’n rol sowel as mediese reaksiespanne en veiligheidsmaatskappye, en hierdie sentrum moet ’n samebindende faktor wees om kommunikasie tussen al hierdie rolspelers te verbeter,” verduidelik Kriel.

Hohls benadruk dat die nege bestaande AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein reeds groot suksesse behaal het, maar dat die naatlose skakeling tussen die onderskeie buurtwagte – wat elk op gemeenskapsveiligheid in hul eie gemeenskappe fokus – nou noodsaaklik is. Die stigting van ’n streeksveiligheidsnetwerk, in AfriForum-terme bekend as ’n steunkring, word nou in die vooruitsig gestel.

Dié steunkring sal die hele Mangaung-metro sowel as die direkte omliggende gebied dek en sal ’n geïntegreerde benadering tot veiligheid en samewerking oor ’n gebied van nagenoeg 7 000 km2 tussen AfriForum se buurt- en plaaswagte bewerkstellig.

“Deur middel van ’n doeltreffende steunkring kan kriminele aktiwiteite in ’n groter gebied bekamp word. So ook kan inligting, soos dié wat met behulp van veiligheidskameras langs paaie ingesamel word, wyer gedeel word en die beweging van verdagtes tussen gebiede kan veel beter gemonitor word. Daarbenewens kan misdaadtendense ook meer akkuraat geïdentifiseer en ontleed word om sodoende kwesbaarheid te bepaal en beter risiko-ontledings te kan doen,” sluit Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid af.

Soortgelyke plasings