Nuutgestigte MidWit-buurtspan ruk paaie in jap-trap reg
AfriForum se Middelburg en Witbank-takke het die afgelope week ’n gesamentlike buurtspan op die been gebring om dié twee gebiede met verskeie projekte by te staan. Die stigting van ’n buurtspan is broodnodig omrede die onderskeie munisipaliteite nie met die algemene onderhoud van dié gebiede kan byhou nie.
Beide Middelburg en Witbank (eMalahleni) word toegegroei onder gras en bosse. Boonop versleg die toestand van die paaie by die dag. Die buurtspan se doelwit is om op ’n daaglikse basis ’n volhoubare verskil teweeg te bring en om te verseker dat werk vinnig en effektief voltooi word.
“Alhoewel Middelburg en Witbank elkeen hul eie uitdagings beleef is dit duidelik dat die spanne se werk nie gou sal opdroog nie. Die span het ’n voertuig en al die nodige toerusting om die gebiede netjies te hou. Die span gaan ook eersdaags verdere opleiding ontvang om meer gevorderde projekte aan te pak, soos die herstel van slaggate en die verf van lyne en stoptekens,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.
Dié AfriForum-inisiatief word alreeds met groot sukses in Centurion (Gauteng) en Secunda (Mpumalanga) geïmplementeer, waar die spanne belangrike verskille in hul gemeenskappe maak. Die spanne dryf ook allerlei soorte projekte wat deur inwoners en plaaslike ondernemings gesteun word.
“Die hoop is om die MidWit-span so vinnig as moontlik uit te brei sodat hulle groter projekte kan aanpak, maar daarvoor is befondsing nodig. Ondernemings wat hierdie span wil ondersteun is welkom om direk met die tak te skakel sodat ons saam ’n volhoubare verskil kan maak,” sê Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.
Plaaslike ondernemings of inwoners wat betrokke wil raak en die span help ondersteun kan ’n epos aan Carien Van Wyk by witbank@afriforumtak.co.za stuur. Dieselfde e-posadres kan gebruik word vir diegene in beide Middelburg en Witbank wat meer oor die takke se bedrywighede wil weet óf ’n bydrae wil maak. Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum betrokke te raak.