Water
|

Noordwes-premier moet nou sê oor Lichtenburg-waterkrisis

AfriForum het ’n beroep op Lazarus Mokgosi, Noordwes-premier, gedoen om dringend in te gryp by die waterkrisis wat die inwoners van Lichtenburg nou al sedert 2024 teister. Die gemeenskap loop nou al vir maande deur onder onreëlmatige watervoorsiening en het by tye geen watervoorsiening nie. AfriForum het reeds in Januarie en vroeg in April vanjaar skrywes aan die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit gerig oor hierdie kwessie.

AfriForum het ook al onder meer gevra vir toegang tot die Klipveld-wateraanleg sodat herstelwerk verrig kan word – die tak wag nog vir terugvoer op hierdie versoek. In sy skrywe aan die premier vra AfriForum vir ’n gesprek met die premier en die betrokke strukture om samewerking te verseker ter wille van die gemeenskap.

Die organisasie het ook die premier herinner aan belangrike wetlike bepalings waar onder elke persoon se reg op toegang tot water – minstens 25 liter drinkbare water per dag. Daarbenewens mag waterdienste nie sonder alternatiewe voorsiening vir langer as 24 uur onderbreek word nie.

“Ons besef dat die premier en sy span voor baie uitdagings staan, maar die waterkrisis in Lichtenburg het ’n kritieke punt bereik. Toegang tot water is nie net ’n noodsaaklikheid nie, dit is ’n grondwetlike reg,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons glo vas dat ’n oplossing binne bereik is as alle rolspelers saamwerk. Die inwoners van Lichtenburg verdien niks minder nie.”

AfriForum het versoek dat die premier teen 17 April terugvoer gee met ’n omvattende verslag wat onder meer die aard van die probleem, redes vir die vertragings in herstelwerk, en ’n aksieplan vir die herstel van die watervoorsiening insluit.

Intussen is AfriForum besig om ’n noodwaterpunt te vestig en meer inligting sal later daaroor volg.

Soortgelyke plasings