Nooddiensramp dreig weens brandstoftekorte in Mangaung-metro
Brandstoftekorte in die Mangaung-metro het reeds basiese dienslewering – soos vullisverwydering – gekniehalter, en dreig nou om ook die lewering van nooddienste in dié munisipaliteit lam te lê. Só waarsku AfriForum nadat dit vandeesweek bekend geword het dat brandstof uit die plaaslike brandweer se reserwevoorraad getap word om vullisverwyderingsvragmotors aan die gang te hou.
Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, voer aan dat die pogings om dienslewering in die metro aan die gang te hou nou ook moontlik die beskikbaarheid van ’n betroubare brandweerdiens negatief kan beïnvloed omdat die beskikbaarheid van brandstof ook nie meer vir die stad se nooddienste gewaarborg is nie. “Inwoners wil in noodsituasies, soos brande en ernstige motorongelukke, kan staatmaak op die lewering van ’n betroubare nooddiens, maar in hierdie stadium kan hulp in dié stad nie deur die metro gewaarborg word nie.”
AfriForum hou vol dat die privatisering van nooddienste juis hierdie leemte kan vul.
“In ’n stad waar munisipale dienste faal en brande nie wag vir burokratiese rompslomp nie, is selfstandige optrede nie net ’n keuse nie – dit is ’n noodsaaklikheid,” sê Cooks.
AfriForum Brandweer, wat in Junie verlede jaar op die been gebring is, het in die eerste ses maande van sy bestaan tot einde Desember op 101 noodoproepe, vir die blus van onder meer veld- en huisbrande, gereageer. Hierdie diens is boonop, volgens Cooks, ’n inisiatief waardeur die gemeenskap self inisiatief neem, verantwoordelikheid in hul eie hande neem en saam aan ’n veiliger gemeenskap bou.
Besoek www.afriforumbrandweer.co.za vir meer inligting.