Nóg oorstromings dreig as metro nie vervalle Kariega-stormwaterkanale uitsorteer nie
AfriForum eis dat die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit dringend by die erge verval van Kariega se stormwaterkanale ingryp voordat nóg ’n ramp die dorp tref. Agt maande ná die eerste vloed in hierdie gebied, is steeds geen vinger verroer om die infrastruktuur te herstel nie en is die Katkanaal in Kariega vandag ’n stinkende rioolstroom. ’n Gebrek aan instandhouding van die Katkanaal het bygedra tot vloedskade toe die gebied op 1 Junie 2024 deur ’n wolkbreuk getref is.
Hoewel nog ’n vloed die gebied in Oktober 2024 lamgelê het, blyk instandhouding en die skoonmaak van stormwaterpype en -kanale nie ’n prioriteit vir die Nelson Mandelabaai-metro te wees nie. Ná ’n onlangse ondersoek deur AfriForum se Uitenhage-tak is gevind dat die Katkanaal en ander kleiner kanale in ’n begroeide toestand is met erge skade aan die betonversterkings wat die vloede veroorsaak het.
Dr Braun en Gibbonstraat in Thomas Gamble is van die gebiede wat die egste deur die vloede geraak is, maar daar is nog geen teken van enige skoonmaakprojekte of herstelwerk nie. Die groot skade wat die vloede aan die rioolinfrastruktuur in die Katkanaal aangerig het, is ook nie herstel nie met die gevolg dat rou riool vryelik deur die kanale tot in die Swarkopsrivier invloei.
Die Nelson Mandelabaai-metro beweer daar is nie fondse vir herstelwerk nie, tog het hy verlede jaar R430 miljoen in toelaes verloor weens onderspandering.
Luidens ’n brief wat AfriForum op 10 Februarie aan die metro gestuur het, is verlede jaar se oorstromings veroorsaak deur verstopte stormwaterkanale. Indien dié probleem dus nie blitsig uitgesorteer word nie, bestaan die risiko dat die dorp weer kan oorstroom, wat verrykende gevolge kan hê. Die 2024-oorstromings het reeds sewe lewens geëis.
AfriForum glo dat ’n vennootskap tussen die Nelson Mandelabaai-metro en aktiewe gemeenskapsbelanghebbendes, soos AfriForum, betekenisvolle en blywende resultate kan behaal. Dit kan skoonmaakprojekte of samewerking aan proaktiewe inisiatiewe deur monitering insluit.
“Die behoud van ’n veilige omgewing is in die belang van elke inwoner. Deur proaktief op te tree en samewerking te prioritiseer, kan ons ’n beduidende verskil maak. AfriForum se Uitenhage-tak en gemeenskapslede het reeds ’n deeglike begrip van die mees geaffekteerde gebiede en is gereed om praktiese ondersteuning aan die munisipaliteit te bied,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos Kaap.
Indien AfriForum geen terugvoer van die metro binne twee weke van ontvangs van die brief kry nie, sal verdere stappe oorweeg word.


