Nóg meer miljoene laat Tshwane-metro nóg meer afhanklik van watertenkwaens – AfriForum
Dit is onrusbarend vir AfriForum dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit sy afhanklikheid van watertenkwaens voortsit deur die goedkeuring van ’n verdere R242 miljoen vir hierdie dienste. Hierdie aangepaste begroting verteenwoordig ’n toename van 64% van die bestaande begroting, wat reeds R378 miljoen beloop.
“Hierdie onverklaarbare en buitensporige verhoging laat ernstige vrae ontstaan of behoorlike prosesse gevolg is om die noodsaaklikheid van hierdie addisionele watertenkwaens te bepaal. Gegewe die metro se voortslepende finansiële probleme, moet só ’n groot begrotingsaanpassing met deursigtigheid en ’n duidelike regverdiging gepaard gaan,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se hoof van die Noordstreek.
Alhoewel die behoefte aan betroubare waterverspreiding onmiskenbaar is, is dit van kardinale belang dat openbare fondse doeltreffend aangewend word. AfriForum eis daarom, ter wille van deursigtigheid, duidelikheid by die metro oor die aanpassings tot dié begroting.
AfriForum vra onder meer vir:
- ’n gedetailleerde uiteensetting van die besteding van die oorspronklike R378 miljoen-begroting;
- ’n volledige verduideliking waarom ’n bykomende R242 miljoen in die begroting nodig is, insluitend besonderhede oor die verkryging, kosteberekeninge en tenderprosesse;
- die oorweging van alternatiewe oplossings vir watersekerheid, eerder as ’n voortgesette afhanklikheid van duur watertenkwaens; en
- versekering dat belastingbetalers se geld nie vermors word op tenderpreneurs of onreëlmatige verkrygingsprosesse nie.
“Daar kan nie toegelaat word dat die metro hierdie enorme begrotingsverhogings goedkeur sonder behoorlike regverdiging of pogings om die bestaande waterinfrastruktuur en beskikbaarheid te verbeter nie. Die inwoners van die Tshwane-metro verdien duidelikheid en eis deursigtigheid en verantwoordbaarheid oor hoe hul geld bestee word,” sê Steinberg.
AfriForum verwag tydige terugvoer oor die aangeleentheid en doen ’n beroep op amptenare om ondersoek in te stel na hierdie begrotingsverhoging. Indien die metro nie hierdie besluit na behore kan verdedig nie, behou AfriForum die reg om stappe te doen om die moontlike wanbesteding van belastingbetalers se geld te verhoed.