Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit het 24 uur om waterkrisis in Delareyville en Ottosdal te herstel – AfriForum
AfriForum gee die Ngaka Modiri Molema Distriksmunisipaliteit 24 uur om die huidige waterkrisis in Delareyville en Ottosdal te herstel. Dié twee dorpe is al vir meer as ’n week sonder water, hoofsaaklik weens swak instandhouding van die Geysdorp-pompstasie in Delareyville.
Luidens ’n brief wat AfriForum vandag (3 Junie) aan die munisipaliteit gestuur het, is die jarelange swak infrastruktuur van die Geysdorp-pompstasie die hoofrede vir die waterkrisis. Die kontrole boks by dié pompstasie het verlede Dinsdag (27 Mei) uitgebrand en die munisipaliteit het sedertdien nog geen poging aangewend om dit te herstel nie.
AfriForum het ook verlede jaar kundiges aangestel om ’n verslag op te stel oor die pompstasie se pypleiding. Uit die verslag was dit duidelik dat die pypleiding nie op die regte plekke lugkleppe het nie en ook dat die infrastrukture by die pompstasie nie onderhou word nie.
Indien die waterkrisis nie binne die voorgestelde tydsbestek van 24 uur herstel word nie, sal AfriForum die nodige maatreëls tref om die toepaslike verligting vir die gemeenskappe te verkry en die uitgawes van die munisipaliteit eis.
Verder in die brief vra AfriForum vir ’n dringende vergadering met die munisipaliteit en ander rolspelers om die waterkrisis te bespreek. Die organisasie stel ook voor dat die munisipaliteit ’n werkbare plan van aksie voorlê van hoe hulle die pompstasie se infrastruktuur gaan verbeter en hoe hulle gaan verhoed dat die probleem in die toekoms weer opduik.
“Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit geen haas het om die probleem om te los om inwoners weer van water te voorsien nie. Geen gemeenskap kan funksioneer sonder water nie, daarom moet die munisipaliteit hul pligte nakom en water voorsien. Die distriksmunisipaliteit trek eenvoudig net hul skouers op, terwyl hulle staan en toekyk hoe inwoners van Delareyville en Ottosdal sonder water moet klaarkom. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat hierdie probleem spoedig opgelos word,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Jy kan help om probleme in jou omgewing op te los. Besoek www.wordlid.co.za.