Nelspruit-tak kry nuwe buurtspan om dié stad reg te ruk
AfriForum se Nelspruit-tak het ’n nuwe buurtspan op die been gebring wat daarop gemik is om dié stad se netheid en algehele voorkoms op te knap te midde van voortdurende munisipale agteruitgang. Die span bestaan uit drie toegewyde werkers wat oor ’n voertuig en toepaslike toerusting beskik.
Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit het die afgelope paar jaar duidelik bewys dat hy nie in staat is om sy basiese verantwoordelikhede teenoor inwoners na te kom nie. Infrastruktuur word nie in stand gehou nie, vullis lê in parke rond en groenstroke en openbare ruimtes is erg verwaarloos. Die gevolg hiervan is dat die stad se beeld as toeristebestemming en sakekern ’n ernstig geknou gekry het.
Die buurtspan fokus hoofsaaklik op die instandhouding en skoonmaak van parke, groenstroke en sypaadjies – gebiede waar verval die duidelikste sigbaar is. In hulle eerste week van werk het die span reeds 11 ton vullis opgetel en verwyder. Dit dien as onweerlegbare bewys dat die Mbombela-munisipaliteit se vermoë om die stad netjies te hou, heeltemal in duie gestort het.




Hierdie inisiatief word volledig deur AfriForum-taklede se bydraes befonds en is dus ’n projek deur die gemeenskap, vir die gemeenskap. “Die munisipaliteit het sy verantwoordelikheid teenoor inwoners versaak, daarom het ons geen ander keuse gehad as om self op te tree om Mbombela (Nelspruit) leefbaar te maak nie,” sê Hugo De Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.
“Die tak nooi inwoners uit om die span te ondersteun wat onverpoos werk om die gebied netjies te hou. Enige bydrae – in watter vorm ook al – word met groot dankbaarheid aanvaar, aangesien hierdie span se werk direk die gemeenskap bevoordeel,” voeg De Beer by.
AfriForum se Nelspruit-tak beklemtoon dat hierdie buurtspan ’n toonbeeld is van hoe gemeenskappe self verantwoordelikheid neem waar die staat faal. Besoek www.wordlid.co.za om by hierdie tak betrokke te raak.