Mosel-buurtwag pootjie vermeende koperdiewe se planne met pepersproei
’n AfriForum-buurtwaglid het die afgelope naweek, gewapen met pepersproei en ’n fiets wat as ’n padversperring gebruik is, vier vermeende kabeldiewe in Kariega (Uitenhage) vasgetrek en die gesteelde koper, wat na raming tienduisende rand werd is, teruggevind. Die jongste voorval is een van tientalle kabeldiefstalgevalle wat op ’n maandelikse basis in die gebied plaasvind.
Die betrokke buurtwaglid, wat aan die Kariega-tak se Mosel-buurtwag verbonde is, het vroeg Vrydagoggend (14 Februarie) in Graaff Reinetweg fiets gery toe drie verdagtes uit naburige bosse gehardloop en in ’n wit Volkswagen Polo gespring het. Die verdagtes het koperkabels in hul besit gehad.
Die brawe buurtwaglid het met sy fiets en pepersproei die insittendes voorgekeer terwyl hy hulp ontbied het. Mosel-buurtwaglede het in vier motors opgedaag en die verdagtes voorgekeer totdat die polisie op die toneel aangekom het. Die AfriForum-buurtwaglede het die vorige aand patrollies gery om kabeldiefstal te help pak en die einste wit Volkswagen Polo in die gebied gewaar. Die polisie het die drie vermeende kabeldiewe en die bestuurder van die motor in hegtenis geneem.
“Hierdie inhegtenisnemings is ’n baie belangrike deurbraak in die stryd teen kabeldiefstal in Kariega. Die koper wat amper in die jongste voorval gebuit is, is na raming R60 000 werd. Die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit moet egter nog duisende rand opdok om die nodige herstelwerk in die gebied te doen,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se streekskoördineerder vir die Oos Kaap.
“AfriForum is uiters trots op die dapperheid wat al die lede van die AfriForum Mosel-buurtwag aan die dag gelê het. AfriForum se buurtwaglede is almal vrywilligers wat hul tyd ná ure opoffer in ’n poging om hul buurte te beveilig. Ons vertrou nou dat die gereg sy gang sal gaan.”
Kabeldiefstal kos metro al R1,4 miljoen in 2025
AfriForum se Mosel-buurtwag hou maandeliks statistieke by oor kabeldiefstal in Kariega en die afgelope ses maande het dié soort misdaad skerp toegeneem. Daar was in Augustus verlede jaar altesaam 42 kabeldiefstalgevalle aangemeld. Dít is van die meeste voorvalle wat al in ’n enkele maand aangemeld is.
Kabeldiefstal het egter nie veel in die nuwejaar verminder nie. In Januarie was daar altesaam 31 gevalle aangemeld. Dié voorvalle jaag die munisipaliteit R1 395 000 uit die sak, wat beteken dat die gemiddelde koste verbonde aan herstelwerk ná ’n kabeldiefstalgeval sowat R45 000 beloop. Dit is nie eens te sê wat dit inwoners en plaaslike ondernemings kos wanneer kabels gesteel en hulle in donkerte gehul word nie.
AfriForum se buurtwagte sal egter voortgaan om alles in die stryd te werp om kabeldiefstal in die gebied hok te slaan. Die Kariega-tak sal na verwagting ook binnekort met die munisipaliteit vergader om dienslewering oor die algemeen in die metro te verbeter.
Raak vandag nog by AfriForum betrokke om ’n daadwerklike verskil in Kariega te maak. Stuur ’n e-pos aan louis.vandervyver@afriforum.co.za of skakel Van der Vyver by 066 486 7611 vir meer inligting.