Mooirivier veilig tydens massapatrollie, terwyl slaggate ook herstel word
Die AfriForum-buurtwagte in die Mooirivier het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 11 April in hul onderskeie gebiede uitgevoer om sigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 16:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur.
’n Totaal van 165 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en altesaam 3 446 km in 138 voertuie afgelê. Daar het ook 17 persone van ander instansies, soos die SAPD, GPF en sekuriteitsmaatskappye, deelgeneem. AfriForum-buurtwagte in Bothaville, Sasolburg, Viljoenskroon, Songloed, Potchefstroom en Stilfontein en aan die patrollie deelgeneem.
Daar is min ernstige voorvalle in die streek tydens die patrollie aangemeld, waarskynlik oor die groot sigbaarheid van die buurtwagte. In die Songloed-woonbuurt in Klerksdorp het die buurtwag sommer so op patrollie ’n paar slaggate reggemaak en in Potchefstroom het die buurtwag ’n skietvoorval nageboots sodat die patrollielede kan oefen om sulke situasies te hanteer.
“Ek is baie trots op hierdie Mooirivier-buurtwagte wat altyd bereid is om aan die nasionale patrollie deel te neem. Ek bedank ook elke patrolleerder, wat elke nag bereid is om hulle tyd op te offer om na die veiligheid van hulle onderskeie gemeenskappe om te sien,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke, klik hier.
