Minister se stilswye oor SANParke-tenderskandaal spreek boekdele, se AfriForum
Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Soundbite: Lambert de Klerk (English)
AfriForum het met teleurstelling kennis geneem dat dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, steeds swyg oor die tenderkorrupsie in sy geledere eerder as om verantwoordelikheid te aanvaar en ’n ondersoek na hierdie bedrieglike aktiwiteite van stapel te stuur. Ten spyte daarvan dat AfriForum se dringende brief rakende die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) se miljardrand-tenderskandaal formeel ontvang en gelees is, is geen reaksie deur sy kantoor uitgereik nie.
“Sy stilswye spreek boekdele,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van Omgewingsake.
“Die gebrek aan terugvoer oor hierdie saak is nie net ’n administratiewe mislukking nie, dis ’n patroon. AfriForum versoek al meer as ’n jaar lank ’n vergadering met die minister om mislukkings in omgewingsbestuur te bespreek, insluitend die voortslepende korrupsiekrisis, die ineenstorting van infrastruktuur in nasionale parke en die kommerwekkende hantering van mynbouaansoeke naby die Krugerwildtuin. AfriForum is egter herhaaldelik met niks anders as stilte begroet nie.”
AfriForum het vroeër die minister versoek om in te gryp en ’n ondersoek na SANParke se verkrygingsprosesse van stapel te stuur na aanleiding van ’n hofuitspraak wat ’n IT-kontrak van R1 miljard, wat deur die bewaringsowerheid toegeken is, onregmatig, ongrondwetlik en onbillik verklaar het. Die hof het SANParke se gedrag as skandelik bestempel nadat dit standaarde verontagsaam het om ’n kontrak onregmatig aan ’n sekere onderneming toe te ken. Tog het die minister, wie se departement vir SANParke verantwoordelik is, nie eens die erns van die saak erken nie.
“Ons kan slegs aanvaar dat die minister nie bekommerd is oor korrupsie nie,” sê De Klerk. “Sy afwesigheid by die SANParke-kwessie, sy stilswye oor die mynbedreiging by die Krugerwildtuin en sy gebrek aan betrokkenheid by kwessies wat bewaring raak, dui op ’n gevaarlike onwilligheid om leiding te neem.”
AfriForum beskou die versuim om te reageer op hierdie kwessie as ’n belediging vir die publiek, vir bewaringspersoneel op voetsoolvlak en vir elke burger wat omgee vir die beskerming van ons natuurlike erfenis. Wanneer miljarde rande wanaangewend word en oorsig verbrokkel, is stilswye nie neutraliteit nie, maar medepligtigheid.
AfriForum sal sy veldtog verskerp om SANParke en die departement aanspreeklik te hou. Die publiek verdien antwoorde en optrede van diegene wat toevertrou is met die beskerming van Suid-Afrika se nasionale parke.