|

MidWit-buurtspan laat nie gras onder hul voete groei nie

Die buurtspan van AfriForum se Middelburg- en Witbank-takke het in hul eerste bestaansmaand (Mei) nie gras onder hul voete laat groei nie deur verskeie areas in Middelburg en Emalahleni skoon te maak. Hierdie span het in Mei minstens vier hektaar se oppervlakte skoongemaak.

Die buurtspan het in Middelburg weggespring met ’n grassnyprojek by die Mineralia-begraafplaas waar ’n gedeelte binne en buite die begraafplaas gesny is. Die span het ook by die Gholfsig-begraafplaas skoongemaak. Daarna het hulle die parkie oorkant Middelburg Primary School se gras gesny en die rommel opgetel. Die totale area wat in Middelburg skoongemaak is, beslaan 2,5 hektaar.

“Sekere take bly agterweë en ons kan nie toelaat dat ons dorp verval soos die dorpe om ons nie,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.

In Emalahleni het die AfriForum-buurtspan begin om gras langs OR Tambo-weg te sny. Dié pad is een van Emalahleni se hoofroetes en die area was baie vuil. Die span het meer as vier bakkievragte vol gras en rommel weggery. Daarna het hulle na die Witbank-gholfklub beweeg en Lukinstraat skoongemaak. Die roete na die gholfklub het bitter sleg gelyk en ’n  veiligheidsrisiko ingehou omdat die gras op die sypaadjies baie hoog gegroei het. ’n Oppervlakte van 1,5 hektaar is in Emalahleni skoongemaak.

”Die span is nou reeds besig om spoedhobbels in beide dorpe (Middelburg en Emalahleni) oor te verf. Mense wat die span sien, kan weet dat hulle hier is om die gemeenskap te dien,” sê Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

Ondersteun AfriForum, besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings