Matjhabeng-munisipaliteit het twee weke om waterlekke in Welkom te herstel
AfriForum gee die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit twee weke om die waterlekke in Welkom te herstel. Inwoners van dié dorp gaan al geruime tyd gebuk onder streng waterbeperkings, terwyl water daagliks in die strate verlore gaan weens talle waterlekke wat nie herstel word nie. Inwoners kyk magteloos toe hoe skoon water in die dorp se strate vloei, terwyl hul krane droog bly. Die Matjhabeng-munisipaliteit sny die watertoevoer daagliks om 17:00 af en stel dit eers om 05:00 die volgende oggend weer beskikbaar, wat groot ongerief vir die gemeenskap veroorsaak.
AfriForum het op 16 April ’n formele brief aan die Matjhabeng-munisipaliteit oorhandig, waarin die munisipaliteit 14 dae gegee word om die waterlekke in die dorp te begin herstel. Indien geen aksie teen 2 Mei geneem is nie, sal AfriForum genoodsaak word om self die herstelwerk te begin aanpak en die kostes daarvan op die munisipaliteit te verhaal.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir sentraalstreek, en Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het op 15 April verskeie waterlekke in Tempest-weg, Alma-weg en Kingstraat identifiseer en gemerk om die munisipaliteit te help om die probleem vinniger op te los.
Plaaslike ondernemings het reeds uit desperaatheid begin om self in te gryp. Ben Regal, ’n besigheidseienaar in Welkom en ook die ondervoorsitter van AfriForum se Welkom-tak, het op eie koste klampe aangeskaf om ’n groot waterlek in Tempest-weg te herstel. Regal het meer as ’n maand gelede die munisipaliteit om hulp gevra om water uit ’n gat te pomp sodat die herstelwerk kan plaasvind, maar tot op hede is geen hulp gebied nie.
“Die liters water wat in ’n waterskaarsgebied soos Welkom verlore gaan, is eenvoudig onaanvaarbaar,” sê Ian Gouws, voorsitter van AfriForum se Welkom-tak.
’n Saak is reeds op 9 April by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien nadat die uitslae van watertoetse op 7 April bewys het dat daar E. coli in die drinkwater is.