|

Machadodorp-tak gaan die ekstra myl om dienslewering te verseker

Die AfriForum-tak in Machadodorp het onlangs alles in die stryd gewerp om te verseker dat dié gemeenskap na behore beveilig word en van broodnodig dienslewering verseker is. Die tak het ’n noodwaterpunt opgerig as deel van sy volgehoue pogings om diensleweringstekorte die hoof te bied en gehelp om veiligheid by kritieke kraginfrastruktuur op te skerp.

Hierdie noodwaterpunt is spesifiek ingerig om plaaslike buurtwagte te help om veldbrande te blus. Dié punt sal lede in staat stel om vinnig brandbestrydingsvoertuie vol te maak. Daarbenewens sal die fasiliteit ook aangewend word om water aan inwoners te voorsien tydens wateronderbrekings – ’n realiteit waarmee Machadodorp-inwoners gereeld gekonfronteer word.

“Ons leef in ’n tyd waar gemeenskappe nie alleenlik op munisipale strukture kan staatmaak nie. Deur dié noodwaterpunt tot stand te bring, wil ons as AfriForum-tak verseker dat daar in tye van nood vinnig opgetree kan word om nie net lewens en eiendom te beskerm nie, maar ook gemeenskappe met vinnige toegang tot water te ondersteun,” sê Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

In ’n verdere poging om kritieke infrastruktuur te beskerm, het die tak ook sonkragaangedrewe beligting en ’n sekuriteitskamera by die dorp se oorskakelingstasie geïnstalleer. Hierdie infrastruktuur word dikwels gebruik om dele van die kragnetwerk te isoleer, maar is al verskeie kere deur vandale geteiken en beskadig. Dit het ook al tot gevolg gehad dat groot dele van die dorp sonder krag gelaat is. Die sekuriteitskamera word aktief gemonitor sodat spanne proaktief teen sabotasie en misdaad kan optree. Dit dien boonop as afskrikmiddel teen verdere vandalisme.

“AfriForum is ernstig daaroor om die dorp se infrastruktuur te beskerm. Die nuwe kamera en beligting is deel van ’n groter veiligheidsinisiatief waarmee dié tak ’n werklike verskil in die gemeenskap wil maak,” voeg Henrico Duvenhage, AfriForum se voorsitter van die Machadodorp-tak, by.

AfriForum se Machadodorp-tak moedig inwoners aan om betrokke te raak by hierdie en ander projekte. Deur saam te staan, bou ons ’n selfstandige en veilige toekoms vir almal in die dorp. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings