|

Lekker konserte wag op Suid-Afrikaners in Australië en Nieu-Seeland

Laat weet sommer nou jou familie en vriende in Australië en Nieu-Seeland van SA Events se lekker konserte wat vandag (27 Maart) in Brisbane afskop. AfriForum Wêreldwyd is ’n vennoot vir dié konserte en ondersteuners kan boonop in aanmerking kom vir lekker korting op sommige van dié konserte.

Die Afrikaanse rockgroep Fokofpolisiekar en Jack Parow is vandag in Brisbane, Australië, te sien en môre hou hulle konsert in Auckland, Nieu-Seeland. Sondag keer die sangers terug na Australië wanneer die mense van Perth kan uitsien na tonekrul lekker Afrikaanse musiek.

Die toer word aangebied deur SA Events, wat bekend is vir hul indrukwekkende werk om Suid-Afrikaanse kunstenaars wêreldwyd na gehore te bring. Met jare se ervaring in die aanbied van toere vir kunstenaars soos Spoegwolf, Jo Black en Ruhan du Toit beloof SA Events weer ’n ervaring van wêreldgehalte.

“Ons wil ’n ervaring skep wat mense nie net laat luister nie, maar laat deel word van die oomblik,” sê Arno Nel, eienaar van SA Events en organiseerder van die konsertreeks. “Hierdie toer gaan oor die energie, vriendskap en onmiskenbare lewenslus wat Suid-Afrikaanse musiek so besonders maak – iets wat jy net kan ervaar, nie beskryf nie.”

Afrikaanse rockmusiek het onherroeplik verander sedert Fokofpolisiekar in die vroeë 2000’s hul deurbraak gemaak het. ’n Generasie van Suid-Afrikaners het grootgeword met dié manne se rou energie, eerlike lirieke en opregte boodskap. Parow se pittige lirieke en skerp humor saam met sy kenmerke lang pet het al menige gehoor laat hardop saamsing. Om Polisiekar en Parow op een verhoog te sien is voorwaar ’n voorreg vir enigiemand wat gelukkig genoeg is om daar te wees.

Dit is egter net die eerste van drie konsertreekse waarna Suid-Afrikaners in Australië en Nieu-Seeland vanjaar kan uitsien. In Junie tref Prime Circle en Eloff Nieu-Seeland en Australië wanneer hulle op 5 Junie in Auckland, 6 Junie in Sydney en 7 Junie in Melbourne optree.

Prime Circle het in 2025 die Afri-Indie-toekenning vir beste rockalbum ingepalm vir hul album The world we know. Liedjies van hierdie album en ook hul ouer treffers sal konsertgangers se ore prikkel. Eloff, wie se musiek veral met jongmense praat, sal sy eie vars energie na hierdie konsertreeks bring.

Eloff toer in Junie in Australië en Nieu-Seeland.

Einde is dit nog niet! Die Afrikaans is Lekker-konsertreeks gaan in Augustus Australië en Nieu-Seeland toe. Vanjaar sal Appel, Bernice West en Elvis Blue konsertgangers in dié twee lande vermaak.

Die Afrikaans is lekker-toerdatums is soos volg:

Christchurch – 14 Augustus

Auckland – 15 Augustus

Melbourne – 16 Augustus

Sydney – 21 Augustus

Brisbane – 22 Augustus

Perth – 23 Augustus

Lekker afslag op lekker konserte

Die kersie op dié musiekkoek is boonop dat AfriForum Wêreldwyd-ondersteuners 10%-afslag kry op kaartjies vir dié konserte. Gebruik bloot die sleutelwoord “AfriForum” as kortingkode en spaar!

Afrikaans is Lekker 2026 word ook aangebied deur SA Events, met AfriForum Wêreldwyd as hoofborg. Volgens Sue-Ann de Wet, hoof van Diaspora by AfriForum Wêreldwyd, speel sulke geleenthede ’n belangrike rol daarin om Suid-Afrikaners in die buiteland bymekaar te bring.

“Afrikaans is die polsende hart van ons gemeenskap, ongeag waar jy woon. Ons kultuur en taal is iets om te vier en te bewaar. Hierdie konserte is veel meer as net musiekvertonings: Dit is waar ou vriende en gemeenskappe bymekaarkom. Dit is ’n plek om nuwe vriende te maak, lekker saam te kuier en jou taal en kultuur uit te leef. Om gelukkig te wees in jou nuwe land, beteken nie dat jy jou mense en kultuur versaak nie. Hierdie optredes bring daardie gevoel van ‘tuis’ terug,” sê De Wet.

Kaartjies vir al drie konsertreekse is beskikbaar by www.southafricanevents.co.za.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners