|

Lede van AfriForum se Groblersdal-buurtwag gerat om gemeenskap op hoër vlak te beskerm

Altesaam 13 lede van AfriForum se Groblersdal-buurtwag het gedurende die eerste week van Februarie aan die organisasie se vyftiende protospankursus deelgeneem en suksesvol voltooi. Hierdie opleiding het op Coenie Meyer, voorsitter van AfriForum se Groblersdal-tak, se plaas net buite Groblersdal plaasgevind en is deur topinstrukteurs van AfriForum aangebied.

Die opleiding het nie net lede van die AfriForum-buurtwag in Groblersdal ingesluit nie, maar ook onderskeidelik twee lede van AfriForum se buurtwagte in Potgietersrust en Meyerton buite Vereeniging. AfriForum het dus nou 17 nuwe opgeleide protospanlede om die veiligheid in hul onderskeie gemeenskappe te versterk.

Die kursus bied onder meer gespesialiseerde opleiding in taktiese vuurwapenhantering, praktiese selfverdediging, bloedingbeheer, verskeie relevante wetlike aspekte, die hantering van misdaadtonele en die opstel van verkeersbeheerpunte. Die kursus fokus ook op die insameling van inligting, die opstel van doeltreffende waarnemingspunte en doeltreffende radiogebruik.

Protospanne vorm deel van AfriForum se buurtwagte en is van die eerste veiligheidsrolspelers om op ernstige misdade te reageer. In-diepte en gevorderde opleiding is dus noodsaaklik vir hierdie lede, wat hul gemeenskappe vrywillig dien.

“Die opleiding is ’n belangrike stap om gemeenskapsveiligheid te versterk. Dit stel ons in staat om doeltreffend teen misdaad op te tree en om ons gemeenskappe beter te beskerm,” sê Meyer.

AfriForum se Groblersdal-buurtwag bedank OK Foods, Safari Slaghuis, Coastal Hire, Bearing International en Oasis-water wat ’n bydrae gelewer het tot die opleiding.

Inwoners wat by AfriForum se Groblersdal-buurtwag wil betrokke raak, kan ’n WhatsApp-boodskap aan 072 289 5970 stuur of ’n e-pos na voorsitter.groblersdal@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings