|

Laerskooldebatteerders toon hul sprekerstalent tydens Dink of Sink- onvoorbereidedebatskompetisie

AfriForum het op 7 Februarie sy Dink of Sink- onvoorbereidedebatskompetisie vir laerskooldebatteerders by die Hoërskool Montana in Pretoria aangebied. Hierdie kompetisie het belowende jong redenaars die kans gegee om hul debatsvaardighede op die proef te stel.

Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatskuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook ’n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel. In 2024 het AfriForum besluit om die kompetisie na laerskole in Gauteng uit te brei, waar graad 6- en 7-leerders nou ook die geleentheid kry om deel te neem.

Altesaam 55 leerders van vier Pretoria-laerskole het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was Laerskool Anton van Wouw, Laerskool Constantiapark, Laerskool Hennopspark en Laerskool Pretoria-Oos. Gedurende die dag het 18 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie skool- en omgewingsverwante onderwerpe.

“Die leerders het hul vaardighede en selfvertroue duidelik ten toon gestel deur deeglik beplande en goedgestruktureerde argumente aan te voer, logiese redenasies te gebruik en sterk teenargumente te lewer. Met selfversekerde lyftaal, duidelike stemprojeksie en ’n entoesiastiese benadering tot hul standpunte, het hulle indrukwekkende debatsvernuf getoon,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys.

Laerskool Anton van Wouw (span 2) se Levi Lombard, Emmi-Faye Butler en Celesté Kempen is as wenners aangewys, terwyl Laerskool Hennopspark (span 2) se Tiaan van den Berg, Burger Duvenhage en Reinhardt Rossouw as naaswenners uit die stryd getree het.

“Die laerskooldebatteerders het ’n indrukwekkende vlak van openbare redevoeringsvernuf getoon, met goeddeurdagte argumente en selfvertroue. Ons sien met opgewondenheid uit na hoe hierdie kompetisie verder groei en jong sprekers help ontwikkel,” sluit Müller af.

Soortgelyke plasings