|

Krugerwildtuin: AfriForum staan politieke foefie van ​​voorgestelde naamsverandering teen

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)
Klankgreep: Marais de Vaal (Engels)

Die EFF se mosie om die Krugerwildtuin se naam te verander, sowel as Mpumalanga se provinsiale wetgewer se kwansuise aanvaarding daarvan, is volgens AfriForum goedkoop politiekery en ’n bewys dat politieke magsbeheptheid in die provinsie swaarder weeg as ingeligte of verantwoordelike besluitneming. Ondanks die feit dat die provinsie nie by magte is om die voorgestelde verandering te implementeer nie, benadruk AfriForum dat hy alle pogings om die naam van een van dié bekendste nasionale parke ter wêreld te verander, sál teenstaan.

Volgens Marais de Vaal, AfriForum se Omgewingsakeraadgewer, is die Krugerwildtuin ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede as sodanig geproklameer en word die park op nasionale vlak deur SANParke bestuur. “Die provinsiale wetgewer het geen gesag om die naam van die wildtuin te verander nie. Die provinsie kan hoogstens ’n voorstel by die Provinsiale Geografiese Namekomitee indien waarna ’n omvattende openbaredeelnameproses gevolg moet word voordat dit aan die Nasionale Geografiese Namekomitee voorgelê kan word vir oorweging. Enige naamsveranderinge sal onderhewig wees aan die volg van die voorgeskrewe proses, waaronder openbare deelname, voordat die minister van Sport, Kuns en Kultuur ’n finale besluit neem.”

De Vaal waarsku dat hoewel die mosie om die park se naam in die provinsiale wetgewer aanvaar is, die proses wat tot dusver gevolg is geensins aan wetlike voorskrifte voldoen nie. “AfriForum sal egter, indien die proses voortgesit word, toesien dat die korrekte proses gevolg word. Ons sal nie huiwer om ons tot die hof te wend indien die wetlike vereistes geïgnoreer word nie,” verduidelik hy.

Die Krugerwildtuin en die gebied aangrensend tot die park dra jaarliks, deur middel van onder meer toeriste se besteding, konsessiefooie, verblyf, vervoer en aktiwiteite sowel as deur indiensneming en verkryging, miljarde rande by tot die land se ekonomie. Die verandering van die park se naam sal uitermatige duur en onnodige handelsmerkimplikasies inhou.

“Dit sal ernstige finansiële vermorsing inhou, waarskynlik internasionale toeriste verwar en uiteindelik die land se reputasie as ’n toerismebestemming laat skade ly – dit terwyl SANParke groot uitdagings ten opsigte van bewaring moet trotseer. Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat pogings om die wildtuin se naam te verander ’n ydele poging is om politieke voordeel te trek.”

AfriForum het intussen ook die EFF se stelling dat Paul Kruger, destydse president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die man na wie die park vernoem is, die “argitek van apartheid” is, gekritiseer. “Die EFF se onkunde oor die Krugerwildtuin se ontstaansgeskiedenis en hul moedswillige verdraaiing van feite is duidelik. Die Krugerwildtuin het juis tot stand gekom danksy Kruger se toekomsvisie en hy was geensins betrokke by die instelling van apartheid wat meer as vier dekades ná sy dood in 1904, gestalte gevind het nie. Om Kruger se bydrae tot die vestiging van die land se belangrikste nasionale park te misken en om hom op dié wyse te brandmerk is opportunisties en blatante verspreiding van leuens,” sê De Vaal. “Die poging om die park se naam te verander sluit aan by die EFF se veldtog om ook Afrikaner-standbeelde te verwyder. Die verwydering van ’n deel van die gemeenskap se simbole, standbeelde en erfenis, is ’n onbeskaamde poging om dié groep se identiteit en reg om te bestaan, weg te stroop.”

“Die Kruger Nasionale Park behoort aan die land en sy mense – nie politici nie. AfriForum sal ten alle koste veg om die Krugerwildtuin se naam, erfenis en ekonomiese waarde te beskerm,” sluit De Vaal af.

Ondersteun AfriForum se veldtog vir die beskerming van die Kruger Nasionale Wildtuin se naam. Onderteken die petisie hier.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners