Kruger Nasionale Park-mynaansoek: Kimopax se uitsluiting van AfriForum oor omgewingsimpakstudie onaanvaarbaar
AfriForum eis dat Kimopax, die omgewingspraktisyn wat die omgewingsimpakstudie oor die impak van mynbou-aktiwiteite naby die Kruger Nasionale Park, en sy kliënt Tenbosch Mining alle interaksies met die betrokke belangegroepe openbaar maak teen 17 Februarie 2025. Dít volg ná dit onder die burgerregteorganisasie, wat as geaffekteerde en belanghebbende party in hierdie omstrede mynaansoek geregistreer is, se aandag gekom het dat daar belangrike inligting rakende die omgewingsimpakstudie met ander partye gedeel is maar nie met AfriForum nie.
Volgens AfriForum verontagsaam hierdie besluit die regulasies vir openbare deelname en wek dit ernstige kommer oor die integriteit van die omgewingsimpakstudie-proses. Ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 107 van 1998 en die gepaardgaande regulasies, moet alle partye wat as belanghebbende en geaffekteerde partye geregistreer is, in relevante kommunikasie ingesluit word en ’n redelike geleentheid gegun word om kommentaar te lewer op die voorgestelde aktiwiteite.
Indien Kimopax en Tenbosch Mining nie gehoor gee aan AfriForum se versoek nie, sal die organisasie die saak eskaleer en ander regsremedies volg om te verhoed dat hierdie mynaansoek onder die huidige ondeursigtige omstandighede voortgaan.
“Ons sal nie toelaat dat hierdie onderduimse taktieke en prosedurele onreëlmatighede die lot van een van Suid-Afrika se mees sensitiewe ekologiese gebiede bepaal nie. Die openbare deelnameproses is juis daar om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker, maar tog het Kimopax ons uitgesluit terwyl hy met ander partye geskakel het,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.
AfriForum sal ook die betrokke regulerende owerhede, insluitend die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, die Departement van Minerale Bronne en Energie, asook die Vereniging van Omgewingsevalueringspraktisyns van Suid-Afrika (EAPASA), formeel in kennis stel van die ongerymdhede. “Ons sal ook voortgaan om hierdie mynaansoek in sy geheel teen te staan aangesien dit ’n wesenlike omgewingsbedreiging vir die Kruger Nasionale Park en die omliggende gemeenskappe inhou,” voeg De Klerk by.
“Ons doen ’n beroep op alle belanghebbendes om te verseker dat die wetlike en omgewingsverpligtinge van hierdie aansoek gehandhaaf word. As Kimopax en Tenbosch Mining glo dat hulle hierdie proses sonder behoorlike openbare konsultasie kan deurstoot, maak hulle ’n reusefout,” sluit De Klerk af.
AfriForum bly daartoe verbind om die grondwetlike regte van sy lede te verdedig en te verseker dat behoorlike proses in alle omgewingsake gevolg word.