Korrupsie in watersektor: Skuldiges moet aan die pen ry
Die burgerregteorganisasie AfriForum doen ’n beroep op die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE), die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om inligting rakende korrupsie, verkrygingsbedrog en ander finansiële misdrywe by die Departement van Water en Sanitasie (DWS) openbaar te maak. Dit volg ná die skokonthullings wat op 18 Junie 2025 deur die SOE, Valke en die NVG aan die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SCOPA) voorgelê is. Dié aanbiedings het die ontstellende omvang van korrupsie, wat die DWS en baie munisipaliteite regoor Suid-Afrika teister, blootgelê.
Volgens die Valke is DWS tans betrokke by agt aktiewe sake wat korrupsie, verkrygingsbedrog en oortredings van finansiële wette behels, slegs een van hierdie sake het tot dusver in die hof gedraai. Ses van hierdie sake, wat meer as R737 miljoen in vermeende verliese beloop, word steeds ondersoek. ’n Bykomende saak wat R33 miljoen beloop, is by die NVG ingedien, maar nog nie vervolg nie. In totaal verteenwoordig hierdie sake ‘n potensiële verlies vir die staat van meer as R771 miljoen.
Wat egter die meeste kommer wek is die gebrek aan deursigtigheid oor hierdie sake. SCOPA-rekords identifiseer nie die spesifieke projekte, kontrakteurs of amptenare wat by die DWS-ondersoeke betrokke is nie – ten spyte van die beduidende waarde van hierdie sake. Dit blyk dat daar moontlik pogings aangewend word om hooggeplaaste amptenare te beskerm.
Verder is die situasie op munisipale vlak selfs erger: 35 munisipaliteite word by korrupsie geïmpliseer, met sake ter waarde van R437 miljard wat reeds by die NVG ingedien is, en R349 miljard wat steeds ondersoek word.
AfriForum veroordeel hierdie growwe skending van openbare vertroue. Miljarde wat geoormerk was vir waterinfrastruktuur, dienslewering en droogtebestandheid word geplunder terwyl miljoene Suid-Afrikaners droë krane en beurtwater moet verduur. Die paar pogings tot die verbeurdverklaring van bates wat aan die gang is, word met hewige teenkanting begroet, dikwels van voormalige amptenare wat nou in luukse landgoedere woon wat met gesteelde geld gebou is.
“In ’n land wat met ’n waterkrisis worstel is dit skandelik dat die einste fondse wat opsygesit is om hierdie noodsaaklike hulpbron te beveilig, straffeloos gesteel word. Dit is nie slagofferlose misdade nie – dit is misdade teen elke persoon wat op skoon, toeganklike water staatmaak om te oorleef,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.
AfriForum versoek onder meer die volgende:
- Die bekendmaking van volledige inligting van alle DWS-korrupsiesakie, insluitend name, projekte en streke;
- Onmiddellike vervolging van geïmpliseerde amptenare, sonder politieke inmenging; en
- Versnelde geleenthede vir die verbeurdverklaring van bates.
“Die miljarde wat weens korrupsie verlore gegaan het, kon aangewend word om Suid-Afrika se waterinfrastruktuur op te gradeer en die lewensgehalte van gemeenskappe drasties te verbeter, veral in landelike gebiede. In plaas daarvan word gemeenskappe nou gelaat met lekkende pype, droë krane en toenemende wantroue in die regering. Water is ’n grondwetlike reg. Dit is tyd om die korrupsie wat ons openbare instellings besoedel en ons land gyselaar hou die hoof te bied. AfriForum sal voortgaan om druk te plaas, te ondersoek en aksie te eis, want die mense van Suid-Afrika verdien skoon water en eerlike regeringspraktyke,” sluit De Klerk af.