|

Kaap Agulhas-tak skenk 100 sakke teer aan munisipaliteit vir herstel van besige kruising

Die AfriForum-tak in Kaap Agulhas het op 6 Junie 100 sakke teer, oftewel 3 ton teer, aan die Kaap Agulhas Plaaslike Munisipaliteit geskenk om ’n besige kruising in Bredasdorp se industriële gebied te herstel. Hierdie deel van die pad is erg verbrokkel weens ouderdom en die aantal swaarvoertuie wat daardie gedeelte van die pad ry.  Die skenking van teer vorm deel van AfriForum se jaarlikse #VulDieGat-projek.

AfriForum se Kaap Agulhas-tak het ook onlangs met Raymond Ross, burgemeester van die munisipaliteit, vergader om die moontlikhede van voortgesette samewerking te bespreek. Die tak het sedert sy reorganisering verlede jaar verskeie suksesvolle gemeenskapsprojekte in Bredasdorp en Struisbaai van stapel gestuur, insluitend die verf van meer as 100 straatname, ’n vorige skenking van 100 sakkies teer en die stigting van ’n AfriForum-buurtwag. Met dit in gedagte, het die tak die munisipaliteit genader om ’n formele samewerkingsooreenkoms te bespreek, sodat die tak en die munisipaliteit in die toekoms nóg beter kan saamwerk.

Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, sê hy is opgewonde oor die gesprekke wat hulle gevoer het. “Ons bedank Mnr Ross vir die goeie gesindheid waarmee hy ons ontvang het en die uitstekende samewerking wat ons van sy onderskeie departemente ontvang. Ons is opgewonde om hande te vat met die munisipaliteit en vinniger te bou aan ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die gemeenskap van die Kaap Agulhas-omgewing.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings