Johannesburg-metro wil toegang hê tot jóú private veiligheidsbeeldmateriaal
Nuwe verordening net nog ’n vorm van onteiening sonder vergoeding, sê AfriForum
AfriForum waarsku oor die verordening wat die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit onlangs goedgekeur het, wat daarop gemik is om geslotekringtelevisie se toesignetwerke, hommeltuie, lyfkameras en outomatiese nommerplaatherkenningstelsels in private besit te reguleer en te beheer. Hierdie stap is niks minder nie as onteiening sonder vergoeding, aangesien dit die regering toelaat om jare se werk, infrastruktuur en beleggings wat private veiligheidsinisiatiewe, ondernemings en gemeenskapsgroepe gemaak het, te kaap. Die metro word aangemoedig om eerder saam met AfriForum en ander private veiligheidsinstansies te werk om misdaad te bekamp.
Die munisipaliteit se poging om toegang tot private toesignetwerke te sentraliseer, is ’n erkenning dat hy misluk het om misdaad hok te slaan. Die enigste rede waarom private individue en organisasies hierdie veiligheidsmaatreëls in die eerste plek geïnstalleer het, is weens die staat se onvermoë om misdaad doeltreffend te bekamp. In plaas daarvan om hierdie inisiatiewe te ondersteun, het die owerhede dikwels pogings deur private veiligheidsnetwerke om openbare veiligheid te versterk, teëgestaan, belemmer of heeltemal geïgnoreer. Nou, eerder as om op ’n samewerkende en vrywillige wyse saam met hierdie netwerke te werk, wil die regering beheer oor private eiendom neem onder die voorwendsel van regulering.
Geslotekringtelevisiekameras wat op privaat eiendom geplaas word – selfs al neem dit beeldmateriaal van openbare ruimtes af – bly die eiendom van die privaat individu of entiteit wat dit geïnstalleer het. Die regering het geen wetlike of etiese reg om onbeperkte toegang tot hierdie netwerke te eis nie. Private burgers en ondernemings moet nie gedwing word om die staat vrye toegang te gee om hul persele te moniteer, hul private data op te teken of te dikteer hoe hulle hul eie sekuriteitsinfrastruktuur kan gebruik nie.
Daarbenewens is daar reeds talle private inisiatiewe wat samewerking tussen verskeie rolspelers met toegang tot verskillende kameranetwerke fasiliteer. Dit sluit vrywillige vennootskappe met wetstoepassingsagentskappe in om beeldmateriaal wettig en verantwoordelik te deel wanneer nodig. Daar is eenvoudig geen regverdiging om die munisipaliteit direkte toegang tot private sekuriteitstelsels te verleen nie – dit is nie net verregaande nie, maar ’n direkte inbreuk op burgers se reg op privaatheid en eiendomsbesit.
Die mees kommerwekkende aspek van hierdie verordening, is dat dit lyfkameras, wat privaat sekuriteitspersoneel en vrywilligers dra, insluit. Dit is heeltemal verregaande vir die regering om toegang te eis tot beeldmateriaal van lyfkameras wat privaat individue dra. So ’n stap sal die munisipaliteit in staat stel om privaat sekuriteitsbedrywighede intyds te moniteer, wat die deur oopmaak vir magsmisbruik, toesig oor wettige private aktiwiteite, en private sekuriteit se vermoë om doeltreffend te funksioneer beïnvloed, om nie eers te praat van ondersoeke na korrupte amptenare en munisipale departemente nie. Die regering het geen reg om privaat sekuriteitspersoneel te moniteer asof hulle staatsamptenare is nie.
Die idee dat die munisipaliteit die gesag moet hê om tariewe, heffings en bybetalings wat met die verordening verband hou, te dikteer, is net so belaglik aangesien die staat nie vir die installering van hierdie toesignetwerke betaal het nie en ook nie bygedra het tot die instandhouding daarvan nie. Nou, na jare se versuim om pogings tot misdaadbekamping te verwaarloos, wil die munisipaliteit fooie en regulasies oplê op diegene wat daadwerklik proaktiewe stappe gedoen het om hul gemeenskappe veiliger te maak.
“Hierdie verordening is niks meer nie as ’n desperate poging van die staat om beheer oor private veiligheidsnetwerke oor te neem terwyl dit absoluut niks doen om openbare veiligheid en korrupsie binne wetstoepassingsagentskappe te verbeter nie. Hierdie magsbehepte politici moet daarop fokus om hul eie gebroke stelsels reg te stel voordat hulle gemeenskapsgedrewe inisiatiewe probeer kaap. Dit is nog ’n voorbeeld van regeringsoortreding en ’n blatante poging om privaat eiendom onder die dekmantel van misdaadvoorkoming te beheer,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.
AfriForum kan deur groter samewerking die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die metropolisie ondersteun met kameramonitering, inligtingsinsameling, tegnologie – waaronder hommeltuie en kommunikasietoerusting – , gemeenskapsbetrokkenheid en gesamentlike opleiding om misdaad doeltreffend te bekamp.
AfriForum doen ’n beroep op alle eiendomseienaars, sakeleiers en private sekuriteitsfirmas om hierdie onregverdige verordening te verwerp en te eis dat die regering private eiendomsreg respekteer. AfriForum sal alle wetlike middele ondersoek om hierdie blatante oortreding uit te daag en teen te staan.ke middele ondersoek om hierdie blatante oortreding uit te daag en teen te staan.