|

Johannesburg-metro skrap verordening oor kringtelevisie ná AfriForum regstappe neem

Klankgreep: Jacques Broodryk (Afrikaans)
Klankgreep: Jacques Broodryk (Engels)

Die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit het sy omstrede verordening oor kringtelevisie herroep, ná openbare druk deur AfriForum en ander organisasies. AfriForum het in Julie ’n aansoek in die Hooggeregshof in Johannesburg gebring om hierdie verordening te betwis en versoek dat dit ongrondwetlik, onwettig en ongeldig verklaar word. Dié verordening oor kringtelevisie het gepoog om geslotekringtelevisienetwerke in openbare ruimtes en privaat eiendom, waarvan die dekking openbare ruimtes insluit, te reguleer en te beheer. Die gebruik van tradisionele kringtelevisiekameras, hommeltuie, outomatiese nommerplaatherkenningstelsels en selfs lyfkameras sou deur hierdie verordening gereguleer word.

In ’n brief van die metro se regsverteenwoordigers gister is bevestig dat die proses om die verordening te herroep reeds begin is en einde Augustus voor die burgemeesterskomitee en dan die munisipale raad sal dien.

“Dit is ’n massiewe oorwinning vir die mense van Johannesburg,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid. “Hierdie verordening was niks meer as ’n blatante magsvergryp om private veiligheidsinfrastruktuur te kaap nie. Danksy hierdie regsaksie bly gemeenskapsveiligheidsnetwerke in die hande van die gemeenskappe wat dit gebou en befonds het, en beland nie in die hande van ’n munisipaliteit wat konsekwent misluk om inwoners veilig te hou nie.”

“Metro’s soos Johannesburg moet die hand van vriendskap aanvaar wat gemeenskapsveiligheidstrukture uitsteek en met gemeenskappe begin saamwerk en nie teen hulle nie,” sluit Broodryk af.

AfriForum het beklemtoon dat hierdie uitkoms die belangrikheid bewys van die burgerlike samelewing wat teen ongrondwetlike oortredings opstaan en beloof om voort te gaan om gemeenskapsveiligheidstrukture oor Suid-Afrika heen te verdedig.

Soortgelyke plasings