Joernaliste

Joernaliste dalk betaal om AfriForum te diskrediteer; burgerregteorganisasie doen PAIA-aansoek om antwoorde te kry

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

AfriForum het in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) vandeesweek amptelik aansoeke aan beide die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) en die departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) gerig om inligting te verskaf rakende watter joernaliste, akademici en kommentators deur die staat betaal word om die openbare mening volgens die staat se voorskrifte te beïnvloed. Die SVA en Dirco het 30 dae om die inligting te verskaf. Indien die inligting egter weerhou word, kan AfriForum die Inligtingsreguleerder (IR) en uiteindelik die howe nader.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die PAIA-aansoeke gerig nadat ’n bekende voormalige joernalis AfriForum met betroubare inligting genader het dat twee bekende Suid-Afrikaanse joernaliste tans deur die SVA én Dirco vergoed word om onder meer AfriForum en die Solidariteit Beweging te probeer diskrediteer en president Cyril Ramaphosa en sy regering se beeld te poets.

Die inligting strook met AfriForum se ervaring dat sommige joernaliste, akademici en kommentators sedert Februarie vanjaar ’n gekoördineerde poging aanwend om wanvoorstellings van AfriForum en die Solidariteit Beweging te maak. Volgens Kriel, moes talle mediahuise reeds vanjaar verskonings aan AfriForum publiseer, nadat die persombud beslis het dat hulle leuens oor dié organisasie gepubliseer het.

“Die feit dat dieselfde leuens rakende AfriForum en die Solidariteit Beweging gelyktydig deur verskillende joernaliste, akademici en kommentators verkondig word, laat ernstige vermoedens ontstaan dat die aanvalle op AfriForum en die Solidariteit Beweging ’n  gekoördineerde poging is wat deur die staat finansier word,” sê Kriel. 

Volgens Kriel het verdere ernstige vrae ontstaan oor die staat se pogings om AfriForum en die Solidariteit Beweging te diskrediteer nadat dit bekend geword het dat ’n senior staatsamptenaar, met ’n geskiedenis van betrokkenheid by die staat se veiligheidsdienste, Karen Burger, die konsep van die sogenaamde “Nie in ons naam nie”-verklaring geskryf het. In dié verklaring het sowat 40 Afrikaners, waaronder joernaliste, akademici en kommentators, op ’n gekoördineerde wyse aanvalle op AfriForum en Solidariteit van stapel gestuur.

“Die verklaring van die 40 is nie opsigself ’n bedreiging vir AfriForum en die Solidariteit Beweging se pogings om ’n beter toekoms vir Afrikaners, Afrikaanssprekendes en die land te bou nie, aangesien nie een van die ondertekenaars enige bewese ondersteuningsbasis het nie. Wat wel ernstige kommer wek, is dat die verklaring sy oorsprong vanuit die staatsmasjinerie het en dui op onderduimse optrede deurdat Burger haar betrokkenheid probeer verbloem het deur nie self die verklaring te onderteken nie,” voeg Kriel by.

Kriel benadruk dat die staat en ander rolspelers se pogings om AfriForum se stem deur gekoördineerde aanvalle te probeer snoer, nie sal slaag nie. “Al wat die onbillike aanvalle bereik, is om AfriForum se ondersteuningsbasis te konsolideer en ons te motiveer om met nog groter ywer te werk om positiewe verandering in die land teweeg te bring deur te bou aan ’n beter hede en toekoms vir die onderskeie gemeenskappe in die land,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf