Hoërskoolleerders van die Wes-Kaap kook by derde provinsiale uitdunronde van die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie
AfriForum se Dink of Sink-span het op 23 Mei die derde van ses provinsiale uitdunrondes aangebied vir hoërskooldebatteerders by die Hoërskool DF Malan in die Wes-Kaap. Die Dink of Sink-onvoorbereidedebatskompetisie vir hoërskoolleerders gee belowende jong debatteerders die kans om hul vaardighede op die proef te stel.
Die doel van die kompetisie is om Afrikaanse debatkuns op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvlak te bevorder, terwyl dit ook ’n noodsaaklike vaardigheid aanleer wat deelnemers in hul toekomstige beroepslewe sal bevoordeel.
Altesaam 195 leerders van vyf hoërskole in die Wes-Kaap het aan die kompetisie deelgeneem. Die deelnemende skole was Hoërskool DF Malan, Hoërskool Stellenberg, Hoër Meisieskool Paarl, Hoër Jongenskool Paarl, Hoër Meisieskool La Rochelle, Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Jan van Riebeeck, Hoërskool Strand, Hoërskool Swartland, Hoërskool Langenhoven, Worcester Gimnasium, Paul Roos Gimnasium, Hoër Meisieskool Bloemhof en Hoërskool Paarl Gimnasium en Hoërskool Durbanville. Gedurende die dag het die 65 spanne elk drie debatte gevoer oor verskeie aktuele onderwerpe in hulle verwysings raamwerk.
“Die leerders het hul take met groot vaardigheid aangepak en beïndruk met goed gestruktureerde, deeglik voorbereide argumente en kragtige teenargumente. Hulle het selfvertroue uitgestraal deur oortuigende lyftaal, duidelike stemgebruik en ’n opregte entoesiasme vir hul standpunte. Hierdie optrede het hul vermoë om krities te dink en doeltreffend te debatteer duidelik na vore gebring,” sê Nicolene Müller, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die suidstreek.
In die junior kategorie (graad 8 en 9) het Paul Roos Gimnasium se Retief Ferreira, Lian Winckler en Paul du Plessis koning gekraai terwyl Hoër Meisieskool Paarl se Emma Kriek, Margelie Hansen en Kara Wentzel as die naaswenners aangekondig is.
In die senior kategorie (graad 10, 11 en 12) het Hoërskool Durbanville se Melandi Nabal, Islah Vorster en Tiaan Bierman die goue trofee huis toe geneem terwyl Hoër Meisieskool Bloemhof se Mieke Jonker, Gabbi Spammer en Delinda Quinot as die naaswenners gekroon is.
“Die hoërskooldebatspanne het ’n indrukwekkende vlak van openbare spreekkuns en kritiese denke getoon deur goed beredeneerde standpunte en selfversekerde optredes. Ons sien met opgewondenheid uit na die verdere ontwikkeling van hierdie kompetisie en die rol wat dit sal speel in die ontginning van jong debatteerders se volle potensiaal,” sluit Müller af.


