Henk Joubert-natuurreservaat: Ingryping nodig om reservaat te laat voortleef
Die swak toestand van die Henk Joubert-natuurreservaat het die burgerregteorganisasie AfriForum nou genoop om die provinsiale en nasionale regerings te versoek om in te gryp aangesien dié natuurreservaat in staatsbesit is. AfriForum het reeds op verskeie geleenthede aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit geskryf oor kwessies rakende hierdie natuurreservaat en ook al self waarskuwingsborde opgerig om motoriste bewus te maak van wild langs die pad.
Die Henk Joubert-natuurreservaat is net buite Delareyville geleë en is een van die natuurreservate wat die meeste deurloop onder swak staatsbestuur. Die natuurreservaat is nie behoorlik omhein nie, daar is onwettige jagaktiwiteite, en die infrastruktuur binne die reservaat is glad nie op standaard nie. Daar is gereeld wilde diere wat in die pad opeindig en ongelukke veroorsaak as gevolg van die gebrekkige omheining en dit maak dit nog moeiliker om die onwettige jagaktiwiteite te bestuur as daar geen toegangsbeheer is nie. Voorts is die organisasie ook bekommerd oor die feit dat die diere by tye nie kos het nie en dat swak infrastruktuur daartoe lei dat die diere ook nie vars water het om te drink nie.
Gebrek aan terugvoer en optrede van die Tswaing-munisipaliteit se kant af het AfriForum nou gedwing om die direkteur-generaal van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing om hulp te nader sodat hierdie natuurreservaat nog vir toekomstige geslagte behoue kan bly.
In sy skrywe versoek die organisasie onder meer:
- ’n Ondersoek na die onwettige jagaktiwiteite binne die reservaat en die toepassing van die toepaslike wette om onwettige jagpraktyke stop te sit.
- Die installering van ’n behoorlike heining om die reservaat sodat motoriste en wild veilig kan wees.
- Opknappingswerk aan infrastruktuur binne die reservaat veral by waterbakke wat lek en pompe wat buite werking is.
- Hulp om die Tswaing-munisipaliteit tot verantwoording te roep en ’n samewerkingsooreenkoms tussen AfriForum en die munisipaliteit implementeer.
Volgens AfriForum is dit van kritieke belang dat die departement ingryp om die langtermyn bewaring van die Henk Joubert-natuurreservaat asook die beskerming van die reservaat se biodiversiteit te verseker.
“Die onvermoë van die munisipaliteit om op te tree teen misdadigers, wat onwettige jagpraktyke binne in ’n munisipale beheerde natuurreservaat uitoefen, is skokkend. As die munisipaliteit nie eers hul eie eiendom en bates kan beskerm nie, hoe moet daar verwag word dat ’n dorp se inwoners en gemeenskap hul vertroue in die munisipaliteit moet plaas om die dorp se belange te beskerm. Die Tswaing-munisipaliteit trek eenvoudig net hul skouers op en neem geen verantwoordelikheid nie,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland. Sluit vandag by AfriForum aan en word deel van die oplossing: Besoek www.wordlid.co.za