Groblersdal-sportgronde minder van ’n seeroog ná AfriForum ingryp
Drie vragte tuinvullis is weggery ná AfriForum se Groblersdal-tak twee agtereenvolgende Saterdae (1 en 8 Februarie) die sportgronde in Chris Wiidstraat skoongemaak het. Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se voortdurende pogings om Groblersdal skoon en netjies te hou. ’n Area van ’n halwe hektaar is uiteindelik skoongemaak: Vullis is opgetel, gras is gesny, bome is skoongesny en gebreekte takke is verwyder.
Martin Coetsee, projekbestuurder van AfriForum se Groblersdal-tak, moedig alle inwoners aan om hul deel te bring deur voor hul eie wonings skoon te maak. “Dit is ons gemeenskap en dit is ons verantwoordelikheid om dit in ’n goeie toestand te hou.”
AfriForum bedank almal wat gehelp het met die skoonmaakprojek. ’n Spesiale dank aan die Amper Alles Mega Mica-groep in Groblersdal wat ’n vragmotor gestuur het om die drie vragte tuinvullis op te laai, terwyl ’n plaaslike boer die gras vir sy vee geneem het.
Die AfriForum-tak in Groblersdal beplan om die dorp een keer ’n maand op te knap. Hoe meer mense betrokke raak, hoe meer kan die tak dit volhoubaar doen. “Ons moedig almal aan om saam met ons te werk en ’n positiewe impak op ons gemeenskap te maak,” sluit Coetsee af.
Intussen beplan AfriForum om druk op die munisipaliteit toe te pas om die haweloses te verwyder wat onwettig in die tennisklubhuis op die sportgronde se perseel woon. “Dit is belangrik dat ons die regte stappe doen om ons gemeenskap se veiligheid en netheid te handhaaf,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.
Vir verdere inligting oor AfriForum se Groblersdal-tak of om betrokke te raak, kontak Coetsee by 082 377 8189 of sluit aan by www.wordlid.co.za.

