Gradeer kragnetwerk op, sê AfriForum aan Gamagara in GOP-voorstelle
AfriForum se Kathu-tak, wat ook onder Dibeng en Olifantshoek sorteer, doen ’n beroep op die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit om in die 2025/2026 finansiële jaar voorsiening te maak vir die opgradering van die kragnetwerk. Die rimpeleffek van die voortslepende kragprobleme in Dibeng veroorsaak ’n gebrek aan voldoende watertoevoer. AfriForum het hierdie voorstel op 26 Mei skriftelik ingedien op die Gamagara-munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir die nuwe begrotingsjaar weens die haglike toestand van die kragnetwerk.
“As ’n geregistreerde gemeenskapsorganisasie is dit vir ons belangrik om saam met die munisipaliteit te werk aan die verbetering van dienslewering, veiligheid en lewensgehalte in Kathu, Dibeng en Olifantshoek,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
AfriForum het onder meer ook die volgende kwessies uitgelig wat prioriteit moet geniet:
- Die toestand van die paaie in Dibeng en Olifantshoek veroorsaak ernstige skade aan voertuie, terwyl padtekens en -merke geheel en al ontbreek.
- Die kerkhofte in Kathu, Dibeng en Olifantshoek is verwaarloos en sommige het hul kapasiteit bereik.
- Vanweë die teenwoordigheid van loslopende vee sonder identifikasie in Dibeng en Olifantshoek versoek AfriForum dat ’n skut opgerig word.
- Daar is ’n groot behoefte aan openbare toilette, beter skoonmaakdienste en die handhawing van reëls in openbare parke.
- Die huidige vullisterreine voldoen nie aan wetlike vereistes nie en AfriForum sal ’n onafhanklike oudit hieroor aan die munisipaliteit oorhandig.
Die organisasie verwys ook na wetlike bepalings in die Grondwet en die Munisipale Beplanning en Prestasiebestuursregulasies van 2001 wat die betrokkenheid van die gemeenskap in die GOP-proses vereis. “Ons vertrou dat die munisipaliteit ons insette ernstig sal opneem en dat daar ’n manier geskep sal word waar gemeenskapslede werklik deel kan neem aan die GOP-proses en prestasiebestuur van die munisipaliteit,” sluit Smit af.