AfriForum 20 jaar: Onthou jy nog? #9 (2022–2023)
Deur Megan Swart
AfriForum het in Maart sy 20ste bestaansjaar gevier en in dié reeks neem ons ’n voëlvlug oor die afgelope 20 jaar se suksesse, mylpale én selfs ’n paar komiese oomblikke in die organisasie se bestaan. Dié en vele meer gebeure is vervat in ’n 20 jaar-gedenkboek wat binnekort verskyn.
2022: AfriForum stel sy eie Afrikaanse stromingsdiens bekend
AfriForum het in 2022 geskiedenis gemaak toe die organisasie sy gratis digitale platform vir lede en nielede, AfriForumTV, bekendgestel het. Die stromingsdiens spog teen die begin van 2026 reeds met meer as 204 000 gebruikers en het intussen in ’n platform verander vir mense met dieselfde passie en liefde vir die filmbedryf.
2023: Vetkoekpaleis II op AfriForumTV te sien
Die herlewing van Vetkoekpaleis het ’n werklikheid geword nadat die vervaardiger Pieter Esterhuizen destyds ’n episode van dié reeks met miljoene kyke op YouTube raakgesien het. Dit terwyl hy die bekendstelling van AfriForumTV gestroom het. Hy het in ’n boodskap aan AfriForumTV gesê dit sou lekker gewees het om inhoud te skep (soos Vetkoekpaleis) wat soveel oë sou lok. Pieter en Willie het later met AfriForumTV ontmoet en met die skryf van Vetkoekpaleis II begin.



