|

Govan Mbeki-munisipaliteit skuldig aan ongelyke behandeling met skuldinvordering

AfriForum in Mpumalanga gaan die Departement van Samewerkende Regering versoek om alternatiewe opsies te oorweeg om agterstallige skuld van sommige Govan Mbeki Munisipaliteit-amptenare in te vorder. Die organisasie stel voor dat ’n onafhanklike kredietbeheermaatskappy aangestel word om die administrasie van rekeninge en kredietinvordering oor te neem, wat gevolglik sal toesien dat regverdige en deursigtige invorderings plaasvind.

Die Govan Mbeki-munisipaliteit, wat nou al bekend is daarvoor om inwoners sonder krag of water te laat, wil klaarblyklik nie die raadslede en personeel met agterstallige skuld onder dieselfde kam skeer nie, sê AfriForum.

Die organisasie het al in September 2024 ’n veldtog van stapel gestuur om raadslede met hoë munisipale skuld te openbaar. Tesame met dié veldtog het AfriForum ’n skrywe aan die Govan Mbeki-munisipaliteit gestuur om te versoek dat die skuld verhaal word of dat daar verder teen skuldige amptenare opgetree word, soos met inwoners. Die munisipaliteit het die skrywe beantwoord en bevestig dat ’n proses reeds aan die gang is om agterstallige skuld in te vorder en dat die munisipaliteit aftrekkings teen die betrokke individue se salarisse sal maak om die skuld te vereffen.

Dit blyk egter dat hierdie proses nie voldoende is nie en boonop ook nie teenoor almal geïmplementeer word nie, terwyl die munisipaliteit streng meganismes uitvoer om skuld in te vorder van inwoners wie se rekeninge agterstallig is.

Luidens die kwartaalverslag vir Desember 2024, het Govan Mbeki-munisipale werknemers se skuld altesaam met meer as R100 000 toegeneem en beloop nou meer as R500 000. Die speaker en die burgermeester het albei hoë bedrae skuld. Alhoewel daar aftrekorders langs van die name aangedui is, is hierdie proses egter nie doeltreffend nie of dit word geheel en al nie toegepas nie, want die skuld word maandeliks net meer.

Inwoners van die munisipaliteit word vinnig geteiken om rekeninge te vereffen wat agterstallig raak, terwyl rekeninge ook telkemale verkeerd is en reggestel moet word. Maar die munisipaliteit se werknemers laat nie op hulle wag nie om hierdie agterstallige rekeninge in te vorder nie.

“Munisipaliteite het duidelik nie die administratiewe vermoë om rekeninge te bestuur nie en politiek blyk ’n hekkie te wees vir regverdige skuldinvordering tussen gewone inwoners en munisipale amptenare. Waarom mag sekere mense oorgesien word, terwyl inwoners summier geboelie word in hierdie moeilike finansiële tye,” sê Hennie Bekker, ’n distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga.

AfriForum versoek inwoners, wat al deur die Govan Mbeki-munisipaliteit gedreig is om hul rekeninge te vereffen, om dit hier aan te meld.

Soortgelyke plasings